Hoe het Afrikaner-magnate soos Koos Bekker en Christo Wiese hul sakeryke opgebou? Vind uit in Fortuine deur Ebbe Dommisse
More about the book!
’n Ongekende opkoms van Afrikaner-magnate het die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope drie dekades gekenmerk. Dit is veral merkwaardig in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese bemagtiging.
Vandag ding talle van hulle internasionaal mee. Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is die mediagroep omvorm tot ’n internasionale beleggingshouergroep wat op e-handel en die internet fokus. Johann Rupert het Richemont in die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot Afrika se grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel uitgebou het.
Fortuine verduidelik hoe hierdie en ander sakeleiers, waaronder Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Laurie Dippenaar, Roelof Botha, Hendrik du Toit en ’n aantal megaboere, hul sakeryke tot stand gebring het. Dit beskryf hul lewens- en sakefilosofieë en wat van hulle sulke suksesvolle entrepreneurs maak.
In onlangse tye het die ineenstorting van Steinhoff Internasionaal, die meubelhandelaar met Markus Jooste aan die stuur, ’n groot hap uit sommige van hierdie fortuine geneem. Jooste is die fokus van een van die hoofstukke, terwyl dit in ’n ander op die filantropiese projekte van hierdie superrykes val.
Also available in English as Fortunes: The Rise and Rise of Afrikaner Tycoons.
Oor die outeur
Ebbe Dommisse is die skrywer van die topverkoper Anton Rupert – ’n Lewensverhaal en etlike ander boeke. Hy het as hoofredakteur van Die Burger afgetree na ’n loopbaan van 40 jaar in die joernalistiek. Hy het op Carnarvon in die Karoo grootgeword en aan die Hoër Jongenskool in die Paarl gematrikuleer. Hy het ’n meestersgraad aan die Nagraadse Skool vir Joernalistiek van die Columbia Universiteit in New York en ’n PhD aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Naspers se hoogste eerbewys, die Phil Weber Medalje, is aan hom toegeken.
Categories Afrikaans Non-fiction South Africa South African Current Affairs
Tags Afrikaans Ebbe Dommisse Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate Fortunes: The Rise and Rise of Afrikaner Tycoons Jonathan Ball Uitgewers New books New releases