‘Hei, klein dief,’ roep die sersant my. ‘Hier’s jou lawyer.’ Lees ’n uittreksel uit Geen engel nie deur André Krüger
More about the book!
In André Krüger se jongste roman, Geen engel nie, neem ’n man ná ’n lewe in die skadu’s stelling in, rewolwer in die hand, om sy allerlaaste misdaad te pleeg.
Terwyl hy in ’n donker sitkamer wag, loop sy herinneringe wye draaie: na harde grootwordjare in Randfontein en Germiston se strate, waar selfs jou eie familie jou kon bloedmond slaan.
Vir ’n hierjy soos hy was sy pad reeds vroeg uitgemeet: hoëtroustelle steel, baie Klipdrift, verbeteringskool, daarná die army. En toe sluk Sunnyside se nagklubs en onderwêreld hom in.
Lees die uittreksel waarin die man onthou hoe hy as jongmens in die tronk beland het:
***
Maggie en my ma het weer gekom. Maggie vertel my toe ek moet in die hof verskyn. ‘Ons kry vir jou regshulp, daai soort waarvoor jy nie hoef te betaal nie. Dis vir arm mense soos ons. Alles sal goed gaan, jy sal sien, neef. Hou net moed.’
‘Wat gebeur met Blackie?’ wil ek weet, en daar huil my ma weer so sy kan nie praat nie.
‘Hy word oormôre begrawe.’ Maggie trek ’n sneesdoekie uit haar bloes se mou en gee vir my ma.
‘Sal ek kan gaan? Na die begrafnis? Maggie, weet jy?’
Die trane lê vlak in haar oë. Sy snuif hard. ‘Ek weet nie. Ek weet eerlikwaar nie.’
In die donker, in die sel, ’n bietjie gerook, voel dit vir my of die dood my kom soek het, asof iets met groot swart vlerke uit die lug gekom en Blackie sommer hier langs my kom vat het. Dit was asof ek die wind van daai vlerke kon voel.
Dit het my hoendervleis gegee.
Die vierde dag is ek hof toe. Die oggend kry ek weer brood en tee, toe laai hulle my agter in een van die geel vangwaens. Dit stink binne na urine en braaksel en Jeyes Fluid. Deur die draad voor die venster sien ek hoe die res van die wêreld hulle gang gaan. Soveel gewone mense wat gewone dinge doen, heeltemal niks weet hulle van hoe diep in die verknorsing ek is nie. My selfbejammering is byna oorweldigend. Hoe is dit dat hier soveel swarigheid kan wees, en net om die draai loop mense en het nie ’n idee van my drama nie?
Die vangwa parkeer agter die gebou en hulle vat my onder in die selle in. Die staaldeure en tralies wat so voor en agter my toeslaan, begin my die horries gee. Ek wil my al bevuil as ek die klang-klang hoor. Ander mense wag ook onder die grond vir hulle beurt daar bo in die hof. Ek wonder hoe dit daar lyk. Party van hulle lyk so bang soos ek, maar ’n paar lyk of hulle op die strand is – min gepla en glad nie gestres nie. Een jong man – hy sê sy naam is Mikey en hy is omtrent my ouderdom – begin met my gesels. ‘Waarvoor is jy hier?’ Hy is harig vir ’n kind. Ek dink hy is seker ’n Portugees of ’n Griek, want hy praat ook met ’n snaakse aksent.
‘Ek,’ sê hy en wys na homself. ‘Huisbraak en diefstal. My derde keer.’ Hy klink of hy trots is daarop. ‘Ek’t amper weggekom, dié keer. Hulle sou my nie gevang het nie, maar die ou bitch by die skool, sy sê die cops sy weet waar ek gaan as ek nie skool toe gaan nie. So, hulle kom in die middel van die nag en vang my by my cherry. Hê-hê-hê, hulle moet my van haar aftrek, want ek naai nog woes, toe march hulle my uit met my groot voël wat doinga-doinga voor my,’ en hy wys met sy hand hoe sy penis op en af wip. ‘Ek sweer, daai een cop, hy smaak my groot voël. Ek sien hom kyk. Sy oë word so groot hulle val amper uit sy kop. Ek sê hom: “Wat kyk jy? Wil jy suig?” Groot fout. Daai aand fok hulle my op in die selle. Hulle kom tweeuur en hulle móér my met nat handdoeke. Weet jy hoekom nat handdoeke?’
Ek skud my kop.
‘Maak nie ’n merk nie. Niemand kan sien hulle’t jou gebliksem nie. En dis fokken seer, man.’
Iemand hamer so hard aan die staaldeur ons almal wip van die skrik. Een van die polisiemanne stap vloek-vloek nader terwyl hy die regte sleutel uit ’n groot bos soek. Hy sluit oop en trek die deur oop. Hy sukkel, want die deur is swaar. Hy is so ’n lang, maer drel en die are staan dik op sy voorkop. ’n Enorme sersant kom in, agter hom ’n klein mannetjie met ’n lang swart mantel.
‘Hei, klein dief,’ roep die sersant my. ‘Hier’s jou lawyer.’
Hy begelei ons na ’n leë sel. Die prokureur lyk jonger as ek. Hy kyk my nie in die oë nie. ‘Ek’t nie tyd nie,’ sê hy terwyl hy sy asem intrek. ‘Ek gaan die saak uitstel tot ’n latere datum en jou borgaansoek doen. Verstaan jy? Oukei, sien jou in die hof.’
Hy is weg voordat ek een woord sê.
Die res is vir my ’n waas.
Ek onthou hoe ek met die trap direk van die selle af die hof bo in is.
Ek onthou Maggie en my ma op die houtbanke, hulle oë rooi gehuil.
Ek onthou die prokureur, so senuweeagtig die papiere bewe in sy hande.
Ek onthou ook sy stem, dunnerig, los en vas, op en af.
Ek onthou die ander mense met die swart mantels wat soos kraaie op die banke sit en vir jou kyk asof iets jou raakgery en net so langs die pad gelos het.
Ek onthou die magistraat met sy dik swart snor en kaal kop. Hy het ook gesê ek is ’n krimineel.
Maar dis omtrent al wat ek kan onthou tot ek terug by die huis was. Ek kan nie onthou wat ek, of enigiemand anders, in die hof gesê het nie.
Maggie het my ingelig ek moet die volgende maand weer in die hof verskyn en dat die prokureur gesê het dis die beste as ek skuldig pleit.
Ek is verontwaardig. ‘Jissis, wat de fok het hulle gedink gaan ek pleit? Die polisie vang my met ’n gesteelde tievie onder my arm, wat gaan ek sê? “E-e, nee, e-e, konstabel, jy sien dis so: Ek stroll hier op die sypaadjie in die middel van die nag en toe trip ek oor hierdie tievie. En daai vingerafdrukke wat julle by die house breaking gekry het, is nie myne nie, en die zol in my broeksak ook nie. Maar die wit pantie in my sak is myne. Ek smaak dit om nou en dan meisie-panties te dra.” Fokken hel, man.’
***
Ook beskikbaar as e-boek op:
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans André Krüger Book excerpts Book extracts Geen engel nie Penguin Random House SA Uittreksel