C

Geen engel nie deur Andre Kruger – ‘n aangrypende roman oor familie, verraad en wraak
 More about the book!

Penguin Random House SA stel bekend: Geen engel nie deur André Krüger.

In hierdie aangrypende roman oor familie, verraad en wraak – geskryf in die taal van die straat en die tyd – voer een man ’n uiterste stryd teen sy lotsbestemming.

Oor die boek

Nuwe plek, nuwe skool, nuwe mense. Ek het my eenkant gehou, net in die middae pinball gespeel by die Griek se kafee op die hoek. Pinball was my ding. My nuwe klasmaats het gesien hoe ek speel.

‘Kyk hoe jive die cat daar agter die pinball,’ lag die een. ‘Ek scheme dié Randfontein cat is nie te bad nie.’

Omdat ek ’n soort van pinball wizard was, het hulle my nie so geboelie soos vir my kleinboet Johnny nie.

Ná ’n lewe in die skadu’s neem ’n man stelling in, rewolwer in die hand, om sy allerlaaste misdaad te pleeg.

Terwyl hy in ’n donker sitkamer wag, loop sy herinneringe wye draaie: na harde grootwordjare in Randfontein en Germiston se strate, waar selfs jou eie familie jou kon bloedmond slaan. Hy onthou die Suid-Afrika waarin hy opgegroei het: die Castle Lager en Lucky Strikes agter skoolpawiljoene, die seuns met aanvalsgewere op die grens.

Vir ’n hierjy soos hy was sy pad reeds vroeg uitgemeet: hoëtroustelle steel, baie Klipdrift, verbeteringskool, daarná die army. En toe sluk Sunnyside se nagklubs en onderwêreld hom in.

Oor die outeur

André Krüger is gebore 6 Desember 1963 in Johannesburg, en matrikuleer aan Hoërskool Florida in 1981. By RAU verwerf hy die volgende grade: BA (Regte) in 1989, BA Honneurs (Filosofie) in 1990, MA (Filosofie) in 1993 en BProc in 1996. In 1999 kwalifiseer hy as prokureur, tot hy die beroep verlaat in 2005 om hom ten volle te skaar by die boekbedryf. Hy is die skrywer van Die twee lewens van Dieter Ondracek en Komplot, wat albei baie goed ontvang is deur die media en resensente. Die twee lewens is ook bekroon met die UJ-prys.

 

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans André Krüger Geen engel nie New books New releases Penguin Random House SA


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments