C

Boekuittreksel: Wat in jou lewe is nie afgehandel nie? Dis die kernvraag in Die Boek van Twee Weë deur Jodi Picoult
 More about the book!

Nadat Dawn Edelstein ’n vliegtuigongeluk oorleef, word sy deur groot onsekerheid oor haar lewenskeuses geteister.

In die oomblik toe sy met haar eie dood gekonfronteer is, het sy nie aan haar man en dogter in Boston gedink nie, maar aan ’n man wat sy 15 jaar tevore in Egipte agtergelaat het.

Lees ‘n uittreksel uit Die Boek van Twee Weë deur Jodi Picoult:

~~~

My ma, wie se hele lewe om bygelowe gedraai het, het ons altyd die sinnetjie saam laat opsê voor ons op vakansie gaan: ‘Ons gaan nêrens nie.’ Dit was bedoel om die duiwel ’n rat voor oë te draai. Ek glo nie in daardie soort ding nie, maar aan die ander kant, ek het dit nie gesê voordat ek by die huis weg is nie. En kyk net waarin het ek beland.

Toe ek in Augustus by Kaïro se lughawe uitstap, voel dit vir my ek betree die son se oppervlak. Selfs laatnag is die hitte soos ’n mes op jou vel, en kom dit in drukkende golwe. Ek voel hoe ’n stroompie sweet by my ruggraat af loop. Ek was nie hierop voorbereid nie. Ek bevind my in die middel van ’n horde ander mense se reisplanne: ’n verkreukelde, verdwaasde groep toeriste wat in hul minibus geboender word; ’n tiener wat sy verseëlde bagasie van die agterkant van ’n oop waentjie af tot op die sypaadjie sleep; ’n vrou wat haar kopdoek teen die briesie beveilig.

’n Klomp mans omring my skielik. ‘Taxi?’ blaf hulle tegelyk. ‘U het taxi nodig?’ sê hulle in gebroke Engels.

Dit help nie ek probeer wegsteek dat ek ’n Westerling is nie. My rooi hare en cargobroek en insteekskoene verklap my herkoms. Ek knik en maak oogkontak met een van hulle, ’n bestuurder met ’n dik snor en ’n gestreepte langmouhemp. Die ander taxibestuurders staan terug, soos seevoëls op soek na die volgende krummel.

‘U het tas?’

Ek skud my kop. Al my besittings is in die klein sakkie wat oor my skouer hang.

‘Amerikaner?’ vra die man en ek knik. ’n Groot, wit glimlag verskyn op sy gesig. ‘Welkom in Alaska!’

Dis verstommend om te dink vyftien jaar het verloop en die simpel grappie is steeds deel van die verwelkomingsgroet vir besoekers. Ek klim agter in sy kar. ‘Neem my na die Ramses-treinstasie,’ sê ek. ‘Hoe lank?’

‘Vyftien minute, insja’Allah.

‘Sjoekran,’ antwoord ek. Dankie. Ek kan nie glo hoe maklik Arabies weer oor my lippe rol nie. Ek is seker daarvan daar is ’n plekkie in ’n mens se brein wat al die inligting bêre wat jy gedink het jy gaan nooit weer nodig hê nie, soos ‘MacArthur Park’ se lirieke, of hoe om matrikse te vermenigvuldig, of – soos in my geval – enigiets Egipties. Toe Meret nog klein was, het sy altyd ‘pasgister’ gesê, wat of vyf minute of vyf jaar gelede kon beteken. En dis presies waar ek nou is. Dis asof ek ’n treë teruggegee het tot in die oomblik toe ek hierdie land destyds verlaat het. Asof dit nog die hele tyd vir my gewag het om terug te keer.

Deur die afgedraaide vensterruit voel ek hoe die sand al klaar ’n lagie op my vel vorm. In Egipte is alles toe onder die sand. Dit het selfs die mummies se tande geslyt.

Al is dit reeds nag, is die teenstrydigheid van die lewe in Kaïro nog steeds sigbaar. Motors en donkiekarretjies deel die snelweë.

Slaghuise met rou vleis aan hake voor die ingang is reg langs aandenkingstalletjies. ’n Warmgemaakte kar skuur by ons verby en bombardeer ons met polsende rap-klanke wat vermeng met die eggo van luidsprekers waaroor die ‘salaah al isja’, die Moslem-aandgebed, weergalm. Die oewers van die Nyl, waarlangs ons roete loop, word verswelg deur die vullis. Uiteindelik bereik ons Ramses-stasie. ‘Vyftig pond,’ se die bestuurder.

Egipte het nie vaste taxitariewe nie. Die bestuurder sê vir jou hoeveel hy dink die rit werd was. Ek gee hom veertig pond as teenaanbod en klim uit die kar. Hy klim ook uit en begin in Arabies op my skree. ‘Sjoekran,’ antwoord ek. ‘Sjoekran.’ Selfs al is hierdie soort voorval algemeen en knip niemand ’n oog oor so iets nie, voel ek hoe my bloeddruk styg terwyl ek stasie se kant toe loop.

Dis nie maklik vir ’n Westerling om in Middel-Egipte uit te kom nie. Toeriste is nie veronderstel om die treine te gebruik nie, so ek koop nie ’n kaartjie nie, maar wag liewer dat die kondukteur my raaksien sodat ek my dom kan hou. Maar die trein het reeds begin beweeg en dis te laat. Hy trek dus net sy skouers op en laat my betaal. Ure later, toe ek in Minya afklim, is ek die enigste wit mens in die stasiegebou. Ek is amper al mens daar.

Ek was veronderstel om teen kwart voor drie in die oggend daar aan te kom, maar die trein is vertraag. Dis nou net na vier. Dit voel asof ek vier-en-twintig uur aaneen gereis het. Die enigste taxibestuurder by die Minya-stasie is besig met ’n speletjie op sy selfoon toe ek teen sy kar se ruit klop. Hy gee net een kyk na my verkreukelde klere en sleepvoetstappie. ‘Sabah el-khier,’ sê ek. Goeiemôre.

‘Sabah el-noor,’ antwoord hy.

Ek gee hom my bestemmingsadres. Dis net meer as ’n uur se ry soontoe. Hy volg die oostelike woestynpad uit Minya. Ek kyk deur die venster en tel al die gebels en wadi’s – die heuwels en valleie – wat in die donker op die horison voor my opdoem. By die kontrolepunte, beman deur seuns met melkbaardwangetjies en stokou masjiengewere uit die jare sestig, draai ek my serp om my hare en maak of ek slaap.

Die motorbestuurder bly na my in sy truspieël loer. Hy wonder seker wat doen ’n Amerikaner in ’n taxi in die hartjie van Egipte, daardie deel van die land wat nooit deel is van toeriste se reisplanne nie. Ek wonder wat ek vir hom sou kon sê as ek die moed of die taal gehad het om dit te doen.

Een van die vrae wat ek altyd aan my kliente vra, is: Wat in jou lewe is nie afgehandel nie? Is daar iets wat jy nog nie gedoen het nie, wat jy voel jy moet doen voor jy hierdie lewe verlaat? Ek het seker al elke antwoord onder die son gehoor: van herstelwerk aan die voordeur waar dit op die vloer skraap tot swem in die Rooisee, van die publikasie van ’n memoir tot ’n pot poker met ’n vriend wat jy in der jare nie gesien het nie.

Vir my is dit dit. Hierdie stof, hierdie tandekners-rit, hierdie bleek, byna onsigbare, uitgestrekte landskap.

Categories Afrikaans Fiction International South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Die Boek van Twee Wee Jodi Picoult Jonathan Ball Uitgewers Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments