C

Bederf jouself in Februarie met 5 nuwe Romanzas – nou beskikbaar!
 More about the book!

Nuut in Februarie – vyf splinternuwe Romanzas vir die maand van liefde:

 

Strykstok van die hart deur Lizelle von Wielligh

Dit is die vroeë 1800’s in die Kaapkolonie. ’n Boog beweeg oor vioolsnare en roer iets binne Annabelle. Watter slaaf speel die viool so mooi?

Sy herken dadelik Kaleb se kastaiingbruin hare en donker oë, maar hy gee voor dat hy haar nie ken nie.

Kaleb, haar lewenslange vriend wat nie vir haar die harmonika mag gespeel het nie. Kaleb, die ambisieuse slaaf, vasgevang in sy omstandighede. Dit is ook nie die eerste keer dat sy musiek haar hartsnare raak nie.

Annabelle en Kaleb moet alles waag om saam te wees, al leef hulle in twee wêrelde.

 

***

Herfswind deur Madelie Human

Mari Pelser is teen die grond. Haar ouers is gelyktydig in ’n motorongeluk dood en sy moet die pastorie se inhoud oppak om plek te maak vir die nuwe predikant. Sy het nou net een begeerte en dis om weg te kom van haar kleindorpse bestaan op Groeneweide. Die Pelsers het godsdiens in haar keel afgedruk en sy wil niks van hulle soort Christenskap weet nie.

Die nuwe dominee daag op met moderne idees en ’n totaal ander soort bediening van die Woord as haar pa, maar sy gaan nie toelaat dat hy haar bepreek nie, al maak die mooie man haar knieë lam. Intussen doen sy aansoek vir werk in die stad en leef haar uit in haar musiek as orrelis van die kerk en musiekonderwyseres by die skool. Sy kry egter nie die werk nie en intussen kruip dominee Driaan al dieper in haar hart.

Daar is egter iets wat die Pelsers al die jare vir haar weggesteek het en toe dit onverwags op die lappe kom, is Mari se lewe weereens omvergewerp. Durf sy op Driaan leun vir ondersteuning en kan sy uitkoms soek by die Hemelse Vader wat hy aanbid?

 

***

 

Nooit weer winter deur Marilé Cloete

Lisa is ’n musiekonderwyseres op ’n dorp in die Karoo wat smag na wyer ervaring. Sy wil bitter graag reis, maar sy is bang om dit op haar eie te doen. Haar vriendin Jennie stem in om saam te gaan op ’n bustoer na Botswana, wat die Okavango-delta en die Victoria-waterval insluit. Jennie se pa word egter siek en Lisa sit sonder ’n metgesel.

Michael is die stil een in hulle vriendekring, die ernstige sielkundige. Hy is Lisa se teenpool en sy reken hy is eintlik so effens dikdood. Toe hy onverwags aanbied om in Jennie se plek saam met haar te gaan, het sy nie veel van ’n keuse nie.

Op die reis ontdek sy meer fasette van Michael se persoonlikheid en sy besef dat teenoorgesteldes mekaar wel kan aantrek en ook aanvul.

 

***

Miljoene maanligsoene deur Corné van Rooyen

Italië vir die troue van die supermodel, Monica Wilson. Daar ontmoet sy die bruidegom se neef, Ricardo Burratti. Die aantreklike Italianer maak gevoelens in haar wakker wat sy nog nooit vantevore ervaar het nie. Sy stry teen die verwarrende emosies en besluit om hom op ’n afstand te hou, ’n besluit wat al hoe moeiliker word, veral wanneer hy haar soen.

Dan is daar nog die beeldskone Lissandra Rinaldi, Ricardo se gewese vriendin, wat dit baie duidelik maak dat sy die een is wat met Ricardo gaan trou. Is Lissandra reg dat Danika bloot net vakansievermaak is vir Ricardo of staan sy ’n kans om sy hart te wen?

 

 

***

 

Tania se liefdes deur Joléne de Koningh

Tania het baie liefdes: haar eie rekenmeestersfirma, haar sportmotor, ’n Ford Mustang, en die perde wat sy graag ry. Sy en die held ontmoet mekaar op ’n Gimkana en soos hulle liefde onwikkel, koop hy, ʼn professor en perdeteler, ʼn spogperd genaamd Orion. Hy moet baie keer in die buiteland optree by kongresse en dit veroorsaak probleme tussen hulle. Maar die verhaal eindig op ʼn hoogtepunt – op ’n perd.

 

 

 

 

 

 

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Corné van Rooyen Herfswind Joléne de Koningh LAPA LAPA Uitgewers Lizelle von Wielligh Madelie Human Marilé Cloete Miljoene maanligsoene New books New releases Nooit weer winter Romanzas Strykstok van die hart Tania se liefdes


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments