C

‘Anna het dit nie sien kom nie’: Lees ’n uittreksel uit Karaktermoord deur Carina Diedericks-Hugo (Plus: Lokprent)
 More about the book!

Penguin Random House SA het ’n uittreksel gedeel uit Karaktermoord deur Carina Diedericks-Hugo – die verhaal van die beeldskone digter Anna Neethling en die moord wat sy nie sien kom het nie.

Jare gelede het Anna finaal uit die uitgewer Malan Sinclair se lewe gestap. Hul verhouding was ’n maalkolk wat sy huwelik en loopbaan wou verswelg. Maar nou is Anna onverwags terug. Wanneer Malan haar lyk langs sy motor vind ná ’n helse uitval in sy kantoor, bou die afwaartse spiral momentum op.

’n Paar dae later maak ’n uittreksel uit Anna se dagboek Malan die hoofverdagte in haar moord en kom gebeure wat ’n dekade gelede tydens ’n drinkparty op ’n wynplaas afgespeel het op die lappe. Iets het daardie aand in die kelder gebeur en meer as een paar hande is bevlek.

Kyk na die boeklokprent:

Lees die uittreksel:

~~~

Sy het dit nie sien kom nie.

 

One het vir hom gewag. Hy kom nou-nou, het sy gesê. Maar hy het nie. Hy het weggebly. Soos gewoonlik. Soos altyd.

Toe hy nie op kantoor was nie, het ons maar gaan rondloop. Doelloos gedwaal in ’n konsentriese sirkel in die maag van Adderleystraat. Vida e caffè-wegneemkoffies halfgedrink weggegooi.

Vingermerke op vertoonvensters gelaat. Drie Peter Stuyvesantsigarette by die Somaliër langs Edgars gekoop en voor die Hungry Lion aangesteek. Op pad ’n das afgerem en in ’n oorvol blou asblik met sigaretbrandkolle gegooi. Fok dit. Trui oor die kop getrek en in ’n verbaasde bergie in ’n verweerde WP-trui se hande gedruk.

Terug.

Spitstyd.

Mense wat vlug uit bedompige kantore. By deure uitkom asof die torings agter hulle begin tuimel, verbete asof Katrina hulle inhaal.

 

Hy sou nie meer op kantoor wees nie. Hy sou ook al gevlug het. Soos gewoonlik. Soos altyd.

Moes hom inhaal. Moes met hom praat.

Op by die nooduitgang se trappe. Teen die grein.

Level 1. Gepeupel.

Level 2. Gatkruipers.

Level 3. Gatlekkers.

Level 4. Gatte.

 

Sy blou Audi het verlate op dieselfde plek gestaan. Maar toe was sy daar. Sy. Met ’n bos sleutels in haar hand. Vooroorgebuig. Sy het ’n trui bo-oor ’n bloes aangehad en die trui het bly dreig om haar te verswelg. 

Haar groot, swart handsak met die goue gespes wou aanmekaar van haar arm afgly. Sy het dit woedend neergegooi. Alles het uitgeval, uitgerol en ’n slordige halfkring om haar gevorm.

Hy was by haar voordat sy iets op die kar se deur kon uitkrap.

Dalk ’n gedig of iets meer makaber.

Hy het die lem opgelig voordat sy beself het hy staan langs haar.

Hy het haar vier keer gesteek voordat sy sy naam kon sê.

Hy het die lem aan haar broek afgevee voordat hy weggestap het.

 

Anna het dit nie sien kom nie.

Sy ook nie.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Carina Diedericks-Hugo Karaktermoord Lokprent Penguin Random House SA Uittreksel Video


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments