C

5 vrae aan Willem Krog oor Alleen onder die maan (Plus: ’n video, gedig en resep om jou deur die inperking te dra)
 More about the book!

Indien jy die virtuele bekendstelling van Willem Krog se jongste roman Alleen onder die maan misgeloop het, kan jy hier na die video kyk en boonop ’n verdere onderhoud met die skrywer lees.

Kry al jou vriende saam in ’n kletskamer en geniet die gesprek tussen Willem en Jo Prins.

Kyk na die video:

https://www.facebook.com/1665160733782300/videos/1287836448090946/

Gesprek met Willem Krog

The Reading List het na die bekendstelling nog vyf vrae aan Willem gestel oor sy distopiese plaasroman. In die onderhoud vertel die skrywer oor die boeke wat hom as kind gevorm het, die boeke wat hy bo alle ander sou kies, en wat Alleen onder die maan sê oor verhoudings.

Vanaf die eerste bladsy is dit duidelik dat die skrywer vreeslik lief is vir lees. Vertel van die boeke wat jy as kind gelees het en hoe dit jou as mens gevorm het?

Hierdie is te veel om op te noem maar die Jasper, Trompie, Saartjie, Die Uile, Keurboslaan en Maardorp-reekse is almal gelees. Dit is moeilik om te sê hoe dit my as mens gevorm het, maar wat ek wel kan sê is dat mondelinge vertellings van gebeure en stories in ons huis en elders ’n belangriker rol gespeel het in hoe menswees ervaar word en hoe jy self ander mense ervaar.

Een van die hartseerste tonele in die hele boek toe Pieter se pa sy huis moes verlaat en net ’n paar boeke kon kies om saam te neem. Watter boeke sou jy kies?

Wel, definitief One Dimensional Man van Marcuse, Groot Verseboek – al drie dele, my ma en suster se boeke, Plato se Republiek, die digbundels van Pablo Neruda, Lorca, Leonard Cohen en Charles Bukowski.

Wat is die doel van die verhaal binne-in die verhaal, oftewel Jaco se manuskrip waarop Pieter afkom?

Die doel daarvan was om konteks te gee aan die huidige en die toekomstige om dan die verlies aan herinneringe te demonstreer wat deur tegnologie veroorsaak word.

Die drie broers in Pa Jaco se onvoltooide manuskrip: Willem, Jaco en Hennie

 

 

 

 

 

 

 

 

Hoe dink jy sou Jaco, met sy afkeur aan tegnologie, oor elektroniese boeke gevoel het?

Hy spreek so ’n bietjie ’n opinie daaroor uit op bladsy 39 van die boek maar hy sou maar soos al die ander goed dit ook moes aanvaar as ’n gegewe.

Ons weet nou dat jou boek futuristies is, maar wat sê dit oor verhoudings?

Die kliproos waarna daar dikwels verwys word in Jaco se manuskrip. Kyk na die video om uit te vind wat die roos vir die skrywer beteken

Vir my is [die storie oor] die emosionele band tussen twee mense wat verskillend groot geword het en hoe daardie band op plekke sterker is en op ander plekke swakker is. In die mate wat dit tiperend is van ’n pa en seun verhouding kan dit as sulks beskou word maar ek sou baie ander temas moes aanspreek om dit ’n primêre pa en seun storie te maak.

Eweneens, die futuristies aard van die boek is spekulatief om eerstens die verskille sterker te beklemtoon en tweedens om aan te toon dat ons huidiglik alreeds in die toekoms lewe.

 

 

 

 

 

Kan nie wag vir die papierboek nie? Alleen onder die maan is ook beskikbaar as e-boek vir slegs R100 tot einde April:

Amazon

***

Willem het ook ’n poësiebundel, Assignaat, in 2014 gepubliseer en ’n resepteboek, Lekker wild, saam met die wyle Andries Botha geskryf. Hier deel hy ’n gedig en ’n resep om jou deur die inperking te dra.

 

Gedig

 

Eerste Siklus – Internet Verslawing

Die Ontmoeting

Ek is so jags soos nog iets,

elke vesel in wellus geaktiveer.

Skuins voor my staan sy

om ongemerk te gewaar

hoe haar gesig oop spruit

in die DNS glinstering van haar oë

poel databasisse magneties verkolk.

Die silikoon van haar lippe vibreer liggies

en ligvoets in mondhoeke versmelt

afgespits ’n domein gekodeerde ken.

In die slagare van haar nek

klop slank die rye protokolle

wat jou oë meevoer

tot die rondings van haar twee DNS-versenders

stuwend jou blik hipnotiseer.

Haar diensverskaffer maag

plat en in gevou na dáár –

Jy gaan eers verder

langs die punt na punt, of te wel,

die PPP van haar bene en jy wonder

of haar dye aan mekaar raak

of is daar ’n opening?

Maar jou oë spring terug na dáár,

by die hulpbronopspoorder, die URL.

Sy is reg om te ontvang.

Ek stap nader.

 

Resep

Filet in Hawermout

’n Filet is die ongeurigste stuk vleis in enige dier se karkas. Die filet se gewildheid is slegs daaran toe te skryf dat dit so sag is.

Bestandele:

  • 1 x filet (nie te groot nie)
  • 1,5 koppie koekmeelblom
  • 3 koppies hawermout (groot vlokkies)
  • 3 geklitsde eiers
  • 1 botteltjie Robertsons tiemie
  • 3 teelepels sout
  • 3 uie
  • botter

Begin om die uie in botter te karameliseer.

Sny die filet in skywe – nie te dik nie. Kap dit liggies met n vleishamer platter.

Plaas die meelblom, die eiers en die hawermout elk in ’n plat bak. Meng die sout en tiemie goed in die hawermout in.

Doop die filet eers in die meelblom dan in die eier, rol dit goed in die hawermoutmengsel totdat die filet heeltemal bedek is. Wys dit vir ’n pan met olyfolie – nie langer as 3 minute per kant nie.

Bedien saam met die uie wat teen hierdie tyd goed gaar is. Daar kan suurlemoen ook oorgesprinkel word.

 

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Alleen onder die maan Interviews Jo Prins Jonathan Ball Publishers Poem Recipe Video Willem Krog


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments