C

Lees ’n uittreksel uit Afspraak met moord deur Jana Marx, die ware verhaal oor die binnewerking van die Krugersdorp-kultus
 More about the book!

Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank?

In haar boek Afspraak met moord beantwoord Jana Marx dié en ander vrae wat gespruit het uit een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis.

Lees ’n uittreksel uit Afspraak met moord:

~~~

Só het alles begin

‘Ria Grunewald is dood. Sy bestaan nie meer nie,’ snik die vrou met die lang grys poniestert in die getuiebank.

Dis 14 November 2018. Ria staan nou al vir die tweede dag in die getuiebank in die hooggeregshof in Johannesburg, waar Cecilia Steyn (37), Zak Valentine (33) en Marcel Steyn (21) op 11 moorde en ’n rits ander aanklagte tereg staan.

Ria wou nie kom getuig nie. Dit het weke se oorreding van die polisie en staatsadvokate geverg om haar uit haar skuilplek uiteindelik by die hof te kry.

Dis vandeesweek die eerste keer in vyf jaar dat Ria vir Cecilia sien.

Ria loer ongemaklik na joernaliste se stemopnemers op die kateder voor haar. Die hof het beveel daar mag nie foto’s van haar geneem word nie, want die gesig van ‘Ria Grunewald’ het in 2013 verdwyn.

Sy woon en werk nou onder ’n ander naam. Niemand daar weet sy is Ria Grunewald wie se naam sinoniem geword het met van die ergste moordsake in die land se regsgeskiedenis nie. Sy weier om selfs die provinsie bekend te maak waar sy die laaste paar jaar woon. Dis al manier hoe sy ’n werk kon kry.

‘Ek is nie meer die Ria van tóé nie. Ek het alles verloor. Toe hulle sterf, het ek gesterf. Dis dit … Dit is dit …’ sê sy aan die hof. Sy lyk steeds platgeslaan.

Ria het in een jaar haar mentor, haar vriendin en amper haar seun verloor. As sy nie gevlug het nie, was sy dalk volgende om te sterf.

Sy het nog kontak met drie vriendinne in Krugersdorp wat strykdeur dié hel aan haar sy gebly het. Haar kinders het sy nog nooit weer gesien of van gehoor sedert sy in 2013 van Cecilia-hulle af gevlug het nie. Hulle wil nie met hul ma kontak hê nie. Die res van haar familie het ook nie meer kontak met haar nie.

2006: Die ‘survivors van satanisme’

Ria moes die pot eiehandig aan die kook hou nadat haar man insolvent verklaar is en hulle in 1992 uitmekaar is. Haar oudste kind was toe pas klaar met skool. Die ander drie, toe 15, 11 en ses jaar oud, was nog almal in ’n privaatskool. Sy moes verskeie werke tegelyk doen om kop bo water te hou. Hul pa het maar ’n skamele R200 se onderhoud per kind per maand bygedra.

Teen 2006 was Ria, nou 52, ’n finansiële adviseur wat in Florida, Johannesburg, gewoon het.

Op ’n dag het ’n vriendin haar saamgenooi na ’n Christelik-gegronde opleidingskursus oor die okkulte in die Oos-Rand. Sy het hier geleer oor die survivors van satanisme – diegene wat uit die okkulte losgebreek en hulle tot Christenskap bekeer het. Sy het geleer dis nie sommer ’n ding wat oornag gebeur nie.

Die kursus, onder leiding van ’n man met die naam FH Havenga, het ’n nuwe wêreld vir Ria laat oopgaan. Havenga het haar opgelei en Ria het ook nie twee keer gedink toe sy in dieselfde jaar genader word om ’n soortgelyke okkulteforum aan die Wes-Rand te begin nie. Sy het intussen haar werk as finansiële adviseur bedank en al haar energie hierin gestort. Ria het bekend geword in die omgewing en aangesluit by die Roodepoort-polisiekantoor se maatskaplike misdaadvoorkomingseenheid en die gemeenskapspolisiëringsforum. Sy het die polisie bygestaan in ondersoeke wat lyk of hulle okkultiese bande het, soos sataniste se rituele moorde.

Op 13 Oktober 2006 het die Hoërskool Florida in Johannesburg haar gebel en gesê daar is ’n jong meisie wat te bang is om huis toe te gaan – blykbaar omdat daar mense buite die skoolgrond skuil wat haar wil ontvoer en in ’n satanistiese ritueel op Halloween (31 Oktober) wil ‘offer’.

Ria het die jong Marina se ouers gebel en gevra of iemand haar by die skool kon gaan oplaai. Sy het gesê sy sal die ouers later gaan sien en die situasie aan hulle verduidelik.

Marina se ma se kêrel het haar toe by die skool kom oplaai, en Ria het die ma die aand by haar huis besoek. Die ma was salig onbewus dat haar kind met die okkulte doenig was.

Ria het toe haar kennis oor die okkulte en survivors ingespan om Marina se ma te leer hoe om haar kind te help wanneer sy bang word of voel sy word geestelik aangeval.

Die mense by die okkulteforum wat deur Ria opgelei is, het ook vir Marina gebid wanneer hulle gedink het dit nodig was. Dié gebedsgeleenthede sou dikwels op sogenaamde high nights of high days plaasvind.

’n High night of high day is ’n beduidende datum op die satanistiese kalender. Op só ’n dag sal sataniste rituele uitvoer en offers aan die Satan bring.

Die jong Marina se weerloosheid het Ria aangegryp en sy het haar op skoolkinders begin toespits.

In 2006 het Ria ’n organisasie sonder winsbejag genaamd Overcomers Through Christ geregistreer. Die organisasie het as ’n bediening gefunksioneer en het ’n raad van drie direkteure en ’n paar amptelike lede gehad.

Ria het ’n grafiese ontwerper genaamd Candice Rijavec van Fourways in Johannesburg gevra om vir haar besigheidskaartjies, ’n webblad, ’n logo en brosjures vir haar nuwe organisasie te ontwerp. Candice was vroeër ’n kliënt van haar toe sy nog finansiële advies gegee het.

Ria en die Overcomers Through Christ het skole in die omgewing begin besoek. Sy het dit verrykingsweke genoem. Sy wou die leerlinge bewus maak van die invloede van satanisme, losbandigheid, dwelmmisbruik en allerhande ander slaggate waarin sy geglo het kinders kan trap. Ria het haar verrykingsweke in samewerking met die polisie se maatskaplike misdaadvoorkomingseenheid gedoen.

’n Verrykingsweek het ’n band en vier sprekers ingesluit wat die kinders in die skoolsaal besig gehou het. In daardie stadium het Ria se Wes-Rand-okkulteforum al ’n klomp lede gehad wat voorbidding by die skole gedoen het ’n week voordat ’n verrykingsweek sou begin. Die kerke in die skole se omgewing is ook na die verrykingsweke uitgenooi.

Die Overcomers Through Christ kon bekostig om een verrykingsweek teen R6 000 per maand aan te bied. Ria het maandeliks ’n groot skenking van ’n anonieme individuele skenker gekry, sowel as ’n paar kleiner skenkings wat die koste van die verrykingsweke gedeeltelik gedra het. Wanneer kerke gehoor het sy bied ’n verrykingsweek by ’n skool in hul omgewing aan, het hulle haar soms uitgenooi om met die gemeente te kom praat. Lidmate sou haar dan dikwels agterna kontak en vra hoe hulle tot die bediening kon bydra. Ria het byna al die geld vir haar bediening aangewend. ’n Klein deel van die skenkings het wel gegaan vir haar eie huur en kos op haar tafel.

Ria het veral goeie bande gehad met pastoor George Nel van die Lighthouse Full Gospel Church in Randburg en sy vrou, Hettie.

In Februarie 2007 het Ria ’n verrykingsweek by die Hoërskool Adelaar in Roodepoort aangebied. Daar het sy ’n onderwyseres ontmoet, Marinda Steyn, toe 40 jaar oud. Min het Ria geweet Marinda sou later een van die sleutellede van die moordbende wees.

Die verrykingsweek was ’n geestelike hoogtepunt in Marinda se lewe. Sy het vir Ria kom vertel dat sy tot bekering gekom het en glo ook sommer ophou rook het.

Ria het tussen die skole deur ook nog die okkulteforum aan die Wes-Rand probeer bestuur, maar die skolebediening het soveel aftrek gekry dat sy genoop was om die forum in Mei 2007 aan een van haar studente oor te gee.

In Augustus 2007 het die okkulteforum se kantoor haar laat weet van ’n voormalige satanis wat dringend hulp en berading nodig het en dat die persoon wat die forum by Ria oorgeneem het oorsee is.

Ene Petro wou vir dié oudsatanis hulp kry. Ria het ingestem om die vrou te help totdat die nuwe leier van die okkulteforum uit die buiteland sou terugkeer, min wetende dat haar lewe nooit weer dieselfde sou wees nie.

Die jong vrou was die 26-jarige Cecilia Steyn.

~~~

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa South African Current Affairs

Tags Afrikaans Afspraak met moord Book excerpts Book extracts Jana Marx LAPA LAPA Uitgewers Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments