C

Een minuut met Constant van der Merwe: ‘Van my studentedae af was ek mal oor reis en om ander wêrelde te ontdek’
 More about the book!

’n Spannende avontuur met geskiedenis, kaarte, ’n skat en draai in die Vatikaan in Rome – Die geheim van Mussolini se kaart beskik oor al die regte bestanddele.

Het jy ’n groot liefde vir geskiedenis? Waarom?

Wat my eintlik interesseer is mense. Die menslike kondisie. Ons is sulke komplekse wesens en ek is altyd nuuskierig oor ons diepste motiverings. Ek wil onder die oppervlak krap en weet wat laat iemand doen wat hy doen.

Dis hoekom geskiedenis ook vir my interessant is. Dit gee mens ’n idee hoekom mense dinge gedoen het, maar mens bly maar raai oor hul diepste motiverings. Dis wat fiksie skryf lekker maak. Die vryheid om jou karakters los te laat en hulle self hul besluite te laat neem, goed of sleg.

Waar is die idee van dié boek gebore?

Die storie kom ’n lang pad. Ek kan nie ’n spesifieke insident as vonk onthou nie, want die storie het deur baie stadiums en herskrywings gegaan. Die Italiaanse konneksie se vonk was my vriendskap met ’n oud-soldaat oom in die gemeente. As mens hom lank genoeg uitvra, kon hy die interessantste stories vertel van sy oorlogsondervindinge in die destydse Italië.

Julle woon tussen Suid-Afrika en Europa. Hoe het dit die verhaal beïnvloed?

Die bekendheid help beslis. Dis heerlik om in ’n plek soos Rome te kan rond dwaal as deel van my navorsing. Ons het ’n paar jaar terug ’n huisie in die Franse platteland gekoop en met al ons kinders in Europa, kan ons nou helfte van ons tyd daar spandeer. Vir my as skrywer is dit belangrik om die atmosfeer van ’n plek in te drink en om met die plaaslike inwoners te probeer kommunikeer. Ongelukkig is ons Frans nog maar beroerd!

Is jy lief vir avontuur of beleef jy dit eerder self deur die bladsye van ’n lekker storie?

Van my studentedae af was ek mal oor reis en om ander wêrelde te ontdek. Dis maar deel van my basiese nuuskierigheid oor mense en die atmosfeer van die plekke waar hulle leef. En dan is ek natuurlik gek oor lees. Veral fiksie. Los my op ’n eiland met ’n kis vol goeie boeke en ek is in die sewende hemel.

Jy is ’n predikant – weliswaar nie Katoliek nie – en het ’n goeie agtergrond van die kerkgeskiedenis. Hoe het dit die verhaal beïnvloed?

Predikantwees en skryf het sy voordele en nadele. Die grootste voordeel is dat jy mense leer ken op die hoogtepunte en laagtepunte van hul lewens. Jy is betrokke by hul kinders, by troues, maar ook by mense se hartseer, mense wat skei, mense wat afskeid moet neem van geliefdes.

Maar in geheel beskou was die betrokke raak by mense en hul lewensverhale baie waardevol vir my as skrywer.

Die artikel was oorspronklik in The Penguin Post gepubliseer, ’n tydskrif van Penguin Random House South Africa.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Constant van der Merwe Die geheim van Mussolini se kaart Interviews Penguin Random House SA The Penguin Post


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments