C

Nuut! Vier vurige nuwe Romanzas – watter een sal jy kies?
 More about the book!

Nuut by LAPA in Mei 2021 – vier nuwe liefdesverhale deur Marilé Cloete, Rina Cilliers, Nellie Alberts en Alma Carstens.

Vergewe en vergeet deur Marilé Cloete

Om vir Etienne te verloor, was vir Lucie baie soos om ’n ledemaat te verloor. Soos met haar arm, het die spookpyne van sy afwesigheid ook nooit heeltemal verdwyn nie. Dis hoekom sy so omver gegooi is toe hy haar kontak nadat hy van haar ongeluk gehoor het. Op die oog af het sy haar lewe hervat ná die egskeiding, haar woema teruggekry, amper vergeet dat hy haar verneuk het, pret gehad, voluit gelewe. Diep in haar hart het die pyn egter nooit heeltemal verdwyn nie … En nou wil hy terugkom. Moet sy vergewe en vergeet?

Oor die outeur

Marilé Cloete is die skrywersnaam wat Alta Cloete gebruik wanneer sy haar hand aan ʼn romanse waag. Sy is ’n plaaskind van die Roggeveld wat in die Boland kom wortelskiet het. Daar deel sy haar lewe met haar eie held, ’n sagmoedige Duitse herdershond, twee eiesinnige gemmerkatte en ʼn paar handmak voëls. Wanneer sy nie skryf nie, probeer sy lees en spesifiek Afrikaanse boeke op sosiale media bevorder. Sy verlang ook na haar twee seuns wat in Noorweë werk. Sy is ’n ongeneeslike romantikus wat onwrikbaar in die liefde glo. Sy beskou lees as die enigste heilsame vorm van verslawing – dit maak nie vet of dronk nie, takel nie jou liggaam af nie en gee jou ’n eie binnelewe wat niemand van jou kan wegneem nie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Op ‘n Turkse tapyt deur Rina Cilliers

Lienke se kêrel is nog nie gereed om te trou nie. Sy besluit om van die geleentheid gebruik te maak om alleen na Turkye en Griekeland te toer, soos wat bespreek was vir die verlowingsreis. Sy wil ’n gebedematjie vir haar aanstaande koop. Volgens legende gee ’n vrou glo die matjie aan ’n man om hom te oorreed om met haar te trou. Op die vlug ontmoet sy sexy Sebastian wat haar reis onmiddellik versuur met sy alewige geterg. Boonop is hulle heel toevallig in dieselfde toergroep. Sy gaan haar bes doen om hom en die vlinders in haar maag te ignoreer.

Oor die outeur

Rina Cilliers woon saam met haar eggenoot op Hartenbos, sogenaamd afgetree. Sy was bevoorreg om voltyds ma (van vier kinders) en tuisteskepper te wees, het al vele kere in haar lewe op verskeie plekke gebly, maar hulle kinders het hoofsaaklik skole en universiteit in Pretoria bygewoon, waar hulle vir 25 jaar gebly het, en daarna Kaap toe en toe Greyton toe wat die punt van haar hart was. Buiten ma en vrou wees, is haar lewe interessant, kreatief en bowenal, positief; dis in hierdie gees wat hulle ’n hegte familie gevorm het.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Reguit na my hart deur Nellie Alberts

Saranie de Wet en die padmaker, Maynard Crafford, bots oor sy nuwe bouprojek in die Roggeveld. Sy moet keer dat bedreigde plantspesies nie deur swaar masjinerie vernietig word nie; hý wil net sonder inmenging sy projek betyds voltooi. Hy hou buitendien nie van vroue soos sy nie. Al ry sy ’n Bronco. Met haar sterk onafhanklikheidsin probeer Saranie ongestoord haar werk doen. Dit irriteer haar grensloos dat die rooikop haar verskeie kere uit ongemaklike situasies moet red, onder andere ’n kitsvloed en ’n fratssneeuval. En hoekom krap dit aan haar dat die man verloof is?

Oor die outeur

Nellie Alberts is ’n gebore Noord-Kapenaar en het draaie op Stellenbosch en in die onderwys gemaak waarna sy lank ’n naaldwerkbesigheid bedryf het. Sy het op skool gou die dorpsbiblioteek deurgelees en is as koshuiskind dikwels betrap met leesboeke in die studiesaal. Sy woon op ’n plaas in die Voor-Roggeveld met vyf honde, twee katte en hoenders waarvan die getalle wissel – afhangende van die vaalmuishonde se bedrywighede. Sy bly besig met tuinmaak, om te kwilt en naaldwerk, redigeer- en proefleeswerk.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Bekende vreemdeling deur Alma Carstens

Trixane is amper dertig, ongetroud en leef met die vrees dat dieselfde vloek van haar voorgeslagte haar gaan tref. Haar ma en ouma het haar gewaarsku dat die vloek geen Walters-vrou spaar nie. Daarom het sy Marco laat belowe om met haar te trou as sy teen dertig nog nie getrou het nie. Maar dit was sestien jaar gelede en hy het waarskynlik lankal van die belofte vergeet. Hy is eintlik ’n vreemdeling. Sy herken hom egter dadelik toe sy hom weer sien en besef dat haar hart steeds net aan hom behoort.

Oor die outeur

Na vier jaar in Kenia en meer as ses jaar in Malawi, het Alma en haar man die Afrika-stof tydelik van hul voete afgeskud om ‘n nuwe avontuur aan te pak. Sedert Januarie 2015 woon hulle in Bangkok, Thailand, waar Jacques as regsadviseur vir ‘n Britse maatskappy werk. Stories skryf en lees was nog altyd vir haar meer as net ‘n stokperdjie, maar deesdae is dit ook ‘n noodsaaklikheid wat help met die verlange na hul kinders in die Kaap. Wanneer sy nie skryf of lees nie, kuier sy graag saam met vriende, kyk flieks en speel gholf. Sy is ook dol oor reis, goeie wyn, ’n kaggelvuur en die see.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Alma Carstens Bekende vreemdeling LAPA LAPA Uitgewers Marilé Cloete Nellie Alberts New books New releases Op 'n Turkse tapyt Reguit na my hart Rina Cilliers Romanza Vergewe en vergeet


1 Votes

You must log in to post a comment

0 Comments