C

Die Boek van Twee Weë (The Book of Two Ways) deur Jodi Picoult is nou in Afrikaans beskikbaar!
 More about the book!

Afrikaanse aanhangers van Jodi Picoult kan nou uitsien na Die Boek van Twee Weë, die vertaling van haar jongste roman The Book of Two Ways wat in September vanjaar wêreldwyd verskyn het!

In die splitsekonde wat sy met haar eie dood gekonfronteer word, verander alles in Dawn Edelstein se lewe. Sy is op ’n vliegtuig wat skielik gedwing word om ’n noodlanding te doen.

Terwyl sy haar op die ergste voorberei, is haar gedagtes egter nie by haar eggenoot en dogter nie, maar by Wyatt Armstrong – ’n man wat sy 15 jaar gelede in Egipte agtergelaat het. Dawn oorleef die vliegtuigongeluk op wonderbaarlike wyse, maar word daarna deur groot onsekerheid oor haar lewenskeuses gery.

Sy het ’n goeie lewe in Boston saam met haar man en dogter en sy vind vervulling in haar werk as doulah, waar sy sterwende mense help om die oorgang tussen die lewe en die dood te maak. Tog kan sy nie help om te wonder wat geword het van Wyatt en sy werk as argeoloog wat antieke grafkelders opgrawe nie. As jong studente het hulle saam opgrawings gedoen totdat Dawn weens ’n persoonlike krisis terug is na Amerika.

Moet sy terugkeer na haar voorstedelike lewe en haar gesin? Of moet sy na Egipte gaan en die spoke van die verlede finaal in die oë kyk en dalk haar navorsing oor die Boek van twee weë voltooi?

Soos die verhaal ontvou, moet Dawn antwoorde op talle kritiese vrae vind: Wat behels ’n goeie lewe? Wat los ons agter wanneer ons sterf en hoeveel van ons lewenskeuses is ons eie en hoeveel maak die lewe vir ons?

Oor die outeur

Jodi Picoult is ’n gewilde en geliefde skrywer van etlike topverkopers, waaronder My Sister’s KeeperThe Storyteller en Small Great Things. Sowat 40 miljoen eksemplare van haar boeke is tans wêreldwyd in druk. Twee van haar boeke is al in Afrikaans vertaal – Die Belydenis (Plain Truth) en Negentien Minute (Nineteen Minutes). Meer as 25 romans het al uit haar pen verskyn en haar werk is al in 34 tale vertaal. My Sister’s Keepers is ook in ’n rolprent omskep. Picoult is al verskeie kere bekroon, onder meer met die New England Book Award.

Oor die vertaler

Daniel Hugo is ’n bekroonde vertaler, digter en taalpraktisyn. Hy is al twee keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer vir sy vertalings uit Nederlands na Afrikaans.

Categories Afrikaans Fiction International South Africa

Tags Afrikaans Boek van Twee Weë Daniel Hugo Jodi Picoult Jonathan Ball Publishers Lost in Transformation New books The Book of Two Ways Translation


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments