C

Vier nuwe Romanzas – Herfsmelodie deur Marile Cloete, Toe soen jy my deur Elsa Winckler en nog meer!
 More about the book!

Herfsmelodie deur Marilé Cloete

Sunet en Bertie het as hoërskoolleerders in die Klein-Karoo deel geword van die uitgebreide vriendekring waaronder sy ousus Roelien en haar pa Herman ook tel. Hulle verhouding was ongekompliseerd en speels dwarsdeur hul studentejare, maar hul emigrasie as verloofdes het nie vir albei glad verloop nie.

Nou is Sunet terug in Suid-Afrika en terug in die Klein-Karoo, veilig in die vriendekring en gevestig in haar beroep as landbounavorser. Dis onvermydelik dat sy soms via Roelien iets van Bertie sal hoor, maar andersins het sy hom uit haar lewe gesny.

Wanneer Bertie egter met sy twee onhanteerbare seuntjies terugkeer na sy ousus se huis, word Sunet se lewe omvergegooi. Sy kom gou agter hy is nie meer die onbesorgde jongeling wat sy liefgehad het nie. Dit lyk nie of hy sy getraumatiseerde kinders kan hanteer nie en die tragiese dood van sy vrou het hy nog glad nie verwerk nie.

Omstandighede dwing Sunet om Bertie en die seuntjies te nooi om haar huis te deel tot hy ’n eie plek kan aanskaf. Hier ontdek albei dat ou liefde inderdaad nie so maklik roes nie en dat die moeilike tweeling eintlik net stabiliteit kortgekom het.

Nou beskikbaar as e-boek:

***

Toe soen jy my deur Elsa Winckler

Moenie vriende soen nie, dit lei net tot moeilikheid!

Toe Gabriella Tredoux een aand in ’n kuierplek op Mosselbaai vir Eben Joubert soen, verander alles. Die soen was veronderstel om haar te help om van ’n ander klewerige vent ontslae te raak. Eben is mos net ’n pel. Maar toe sy hom soen, terwyl ’n lied oor soenery in die agtergrond speel, kan sy nie langer aan hom dink as net ’n pel nie. Miskien is almal tog reg toe hulle gesê het dat Jody nog lank nie klaar is met haar matchmaking nie.

As tandarts op Mosselbaai, is Eben se lewe soos hy daarvan hou – ongekompliseerd. Wat hy van die huwelik weet, het hom vir altyd genees van gedagtes aan vir ewig en altyd, maar toe soen Gabriella hom en dis skielik onmoontlik om aan enigiets anders as aan haar te dink.

Nou beskikbaar as e-boek:

***

Dubbel die moeilikheid deur Ciska Olivier

Hannah of Anna? Wie is nou wie?

Hannah is by ’n onverwagse werksonderhoud terwyl sy veronderstel is om gereed te maak vir ’n geleentheid saam met haar kêrel. ’n Onderhoud waarvan hy nie weet nie. Hy sal verstaan, praat sy haarself moed in wanneer sy agterkom sy gaan dit nie maak nie. Wat sy nie verwag nie, is dat haar tweelingsuster, Anna, besluit om haar plek in te neem omdat sy nie self kaartjies vir die vertoning kon bekom nie.

Hierdie ondeurdagte besluit van Anna dompel hulle in ’n situasie waar Hannah haar suster vir die week in Derick se geselskap los. Dit lei egter tot ’n skokkende gebeurtenis. Hulle raak verloof. Derick is nie verloof aan sy wat Hannah is nie. O nee, sy was nie die een wat ‘ja’ gesê het nie. Dit was Anna. Maar Derick weet dit nie en sy kan nie waag om hom te sê sonder om sy hart te breek nie.

Hoe keer sy hierdie weghol-trein? En dan is daar Derick se vriend, Tony. Met sy swart hare, donker oë en die glimlag wat alewig om sy mond huiwer, maak hy iets onverwags in haar binneste wakker. Iets wat haar bang maak en hoe meer hy raaksien, hoe meer wil sy van hom af wegkom. Hy skrik haar af, maar terselfdertyd lok hy haar soos ’n by na nektar. Dit maak ook nie saak hoe gereeld sy hom probeer vermy nie; hy bly op haar spoor. Hy probeer immers net sy vriend beskerm, maar sy staan die gevaar om haar hart op die verkeerde man te verloor. ’n Man wat haar sal verag as hy ooit uitvind wat werklik aangaan.

Nou beskikbaar as e-boek:

***

Ivoorblom vir Hai-lin deur Mari Grobler

Sy is die perfekte simbool van vroulike skoonheid en sagmoedigheid, nes die magnolia.

Hai-Lin kuier met vakansie in Sjanghai, China, by haar ma se vriende, Su Fen en Laum. Sy gebruik die tyd om Sjanghai te verken en geniet die unieke atmosfeer van die stad en sy mense. Sy het nog net een ernstige verhouding gehad toe sy ’n student was, maar haar sogenaamde beste vriendin het hom skaamteloos afgevry.

Eintlik het sy haar ’n guns bewys. Sy onthou hoe die einste vriendin lang trane gehuil het toe die rokjagter haar ook verneuk het. Dit het Hai-Lin ’n ewige gly gegee in gladdebek mans wat met al wat ’n rok dra wil flankeer. ’n Man sal eers haar vertroue moet wen, voor sy hom in haar wantrouige hart sal toelaat. Su Fen se seun, Laum, is ’n droom van ’n man, maar dit lyk of hy maklik sal flankeer. Juis daarom moet sy daarop konsentreer om hom op ’n afstand te hou. Gaan haar tyd in China haar egter anders laat dink oor die liefde, en wat is die simboliek van die ivoorblom?

Nou beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Ciska Olivier Dubbel die moeilikheid Elsa Winckler Herfsmelodie Ivoorblom vir Hai-lin LAPA LAPA Uitgewers Mari Grobler Marilé Cloete New books New releases Romanza Toe soen jy my


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments