Na ’n aanslag op sy lewe vlug JJ van Solms die berge in: Lees ’n uittreksel uit By die brandende berg deur Piet van Rooyen
More about the book!
By die brandende berg deur Piet van Rooyen, die skrywer van Voëlvry en Amatola, het verlede jaar by Penguin Random House SA verskyn.
JJ van Solms, so hardegat soos wat hy hardwerkend is, se rykdom lê in Afrika se kobaltriwwe. In die Kongo vestig hy ’n myn saam met twee vennote, maar toe die geld begin inrol, raak hy vir hulle oorbodig. Ná ’n aanslag op sy lewe moet hy vlug.
Lees ’n uittreksel:
~~~
Arixa Ams, dis die Damaranaam van die plek waar hy vir Jack Huang kom wegkruip het. Behalwe die naam en hulle eie klein teenwoordigheid, is daar niks wat die gehuggie as uitsonderlik identifiseer nie. Dit sit vyftien kilometer van Uis af, op die vlakte naby die Brandberg, so vyf kilometer van die gruispad na Khorixas af. ’n Tweespoorpaadjie slinger-slinger tot op die werf, waar die karavaan op blokke langs die pegmatietriwwe ingetrek staan. ’n Entjie weg van die karavaan is ’n klipkoppie wat hoofsaaklik uit gebroke basaltdagsome bestaan. Die koppie is te klein om ’n skaduwee te gooi en bied geen beskerming teen die son nie. Stukkies wit kwartsklip lê wydverspreid oor die vaal agtergrond gesaai, met die flonkering van vals diamante, die glinstering plek-plek so skerp dat die oë daarvan verblind word.
Drie dromme water en een drom diesel staan langs die karavaan onder ’n wankelrige afdak. ’n Verflenterde Mazdabakkie staan agter die karavaan in die son, die roes wat lang bruin trane teen die bakwerk af trek. ’n Windlaaier woer op ’n dun lat bokant die karavaan se dak in die wind. Verder is daar niks, net die woestyn rondom hulle en die Berg in logge profiel op die horison.
Die Berg weerkaats blougrys vanuit die hoë vlieswolke, ver op die lugspieëlings. Die polsing van die hittegolwe oor die landskap maak dit lyk asof die hele Berg soos ’n soort oerkolos aan die aanstap is, swaar uit sy oorsprong, koppig vorentoe deur tyd. JJ skud sy kop heen en weer om die rafels van sy middagslaap uit sy verstand te probeer vee. Vir ’n oomblik, in die toestand van verwardheid tussen slaap en wakker word, het hy werklik gedink die kolos is direk op pad na hom toe. Hy skrik hom deesdae maklik oorhoeks vir enige onverwagse beweging. Basta dan tog met hierdie onbeheerste betrapping deur sy eie senuwees.
In die middel van die dag is die Berg bloupers, donkergrys, blougrys of selfs gryswit, afhangende van die refleksie van die son daarop en die mate van vliesigheid in die bolug. Soggens vroeg, of saans met sonsak, kan dit egter die mees uitsonderlike kleure aanneem: rooi, of pienk, helderblou soos die vlam uit ’n blaasbalk, geelwit, oranje met vlammende pers punte. Dis waarom dit die Brandende Berg genoem word, Daureb in die Damarataal, of Daures, as mense daarna as ’n vroulike wese verwys.
Die lug ruik na stof, met ’n titseltjie metaal daarin opgeklits. Dis ’n barre stuk wêreld, hierdie stuk woestyn waarin hy homself en sy gesin kom indwing het. Dis nie ’n maklike plek nie, moet hy toegee. Die versengende hitte vang jou reg voor die voorkop, gryp jou aan die blaaie, wil nie skietgee tot diep in die nag nie. Voorwerpe dans van vroegoggend af al op lugspieëlings rond, klits die sinne en die gedagtes deurmekaar, maak dit moeilik om helder te dink. Hy’t al in die paar maande wat hy hier is, geleer om saans sy planne klaar te bedink, of soggens voor die son opkom, en dan maar eenvoudig deur die dag te sloeg, soos ’n donkie onder ’n pakkaas. JJ ken homself goed genoeg om te besef dat as hy eers die rigting het, kan hy aanhou. Hy’s nie bang vir werk nie. Daarvan kan niemand hom beskuldig nie. Van ander dinge wel, ja, hy weet hy is nie sonder foute nie, maar lui staan nie op sy lyf geskryf nie. Mense kan maar sê hy is hardkoppig, maar hardkoppigheid het hom al ver gebring, al het dit baie keer se struikel en weer en weer se sukkelrige opstaan gekos.
Dis heeltemal anders hier as in die Kongo, maar daarvoor kan hy juis die gode bedank. Dis wel warm en stowwerig en droog, maar hy kan die hitte hanteer. Die oerwoud van die Kongo het hom ondergekry. Die paar jare daar was hel, weet hy nou eers behoorlik. Hy wil nooit weer so iets beleef nie. Hy het nie gedink hy het ook ’n breekpunt nie, maar daar het hy geleer dat hy wel een het. Hy sal aan niemand, nie eers aan homself, erken dat die Kongo hom laat besef het dat hy in wese ’n lafaard is nie. Daar het hy daagliks vir sy lewe gevrees. In sy diepste wese weet hy dat hy nie mans genoeg was vir daardie plek nie. Hy kan maar net hoop hy het ver genoeg daarvandaan weggevlug. Hy en sy vrou en sy kinders. Hy hoop hy word nooit hier opgespoor nie. Hy weet Jack Huang soek hom, soek hom verbete, maar hier sal hy hom nie kry nie. Op hierdie kaal vlak kan ’n mens ’n vyand vir myle sien aankom. Hier kan jy vir ewig wegkruip, glo hy, kan hy maar net hoop.
Dis sy tipe wêreld hierdie. Dit pas sy persoonlikheid. Dié wêreld voer sy eie stryd met jou, met jou binneste, jou vrese, jou denke, tot aan die einde van jou dae. Dis wyd, alles lê wyd en oop en eerlik. Hier is hy uiteindelik ontslae van daardie dae lange gedrup van die reënwoud. Daar voel dit later of elke druppel op die kroon van jou kop kom val, daar bly hamer tot malwordens toe. Die muwwe reuk van verval. Die onsekere bestaan in die oerwoudnewels, die gedurige gesuis van die blare en wind. Dis asof daar gedurig tromme deur jou kop aan die speel was, die tromme van uitgestorwe swart stamme, die tromme van kolonel Kurz se manskappe, die geweeklaag van al die dooie slawe wat deur koning Leopold se amptenare doodgemartel is. Nou is dit die Sjinese wat hom soek om hom dood te maak, stadig dood te wurg as hulle kan. Jack Huang en al sy makkers. Hier sal hulle hom nie kry nie. Hier is hy veilig, al is dit hoe warm, hoe droog, al kla sy vrou daagliks ook hoe erg oor die hitte.
Natuurlik kan nie een van hulle die vrees wat in die swoelheid van die nag se drome of wakker lê in hul agterkoppe bly draal, ignoreer nie. Dan draai hy sy gesig na haar toe, en sien haar met onrustige asemstote slapend langs hom lê, op haar eie kussing, haar voorkop vol sweetdruppels in die maanlig wat deur die smal venster glip. Wie en wat maal deur haar gedagtes? Hy herinner hom haar geneul oor die hitte en die stof, maar glo tog dat selfs ook sy van harte bly is dat hulle kon wegkom uit Huang se strekkende tentakels.
Hier lê sy, met haar wildgekartelde afrohare wyd uitgesprei op die kussing – Dominique. Dít het die Kongo hom ten minste gebied, ’n onverwagse geskenk tussen al die verskrikkinge deur, hierdie meisie wat vir hom vrou geword het. Sy’s nog skaars volwasse, skaars by die twee-en-twintig verby, maar sy het hom reeds twee seuns gegee. Twee mooi kinders, van kop tot tone perfek. Hy verlustig hom elke dag van voor af in hulle.
Hier waar hy sit en wag vir die man van die spaarparte om te kom, lê sy skuins oor die smal karavaanbed na asem en hyg teen die hitte, haar linkerarm lank uitgestrek oor die bed se rand. Die vingerpunte, die duim en die wysvinger, druk liggies teen mekaar, vorm ’n klein hartjie, met die sagte vleis van haar handpalm die hart se lewe. Hy kan sien hoe die vingerpunte ligweg klop, die drukking van haar bloed deur haar arms en polse. Op die karavaan se vloer, in die blink van die laag stof, lê ’n klein poel sweet. Daar hang juis nou ’n druppel sweet blink aan die punt van haar middelvinger.
Stadig groei die druppel groter. Hy kyk half gehipnotiseerd daarna en wag dat dit val. Dan volg hy die dun straal vog van haar gekromde vingerpunte af, teen die blou are van haar arm langs, tot in die armholte, die dik bossie swart hare wat daar uitpeul, ’n klein bossie weerspieëling van die woeste bos hare op haar kop. A, sy vrou, sy mulatto-meisievrou, die lenige Franssprekende geliefde uit die hart van die oerwoud.
Weer ruis die Kongo deur sy gedagtes: sy in haar springjurk, arms oor die ogiesdraad gehaak, die geur van een of ander soort skoolmeisieparfuum wat van haar af na hom toe aangestuif kom, hy wat koponderstebo vanaf sy kamer in die backpackers verby haar aan die stap is na Mynbou se kantore toe, pakke dokumente, rolle omkoopgeld in sy aktetassie, ’n plastieksak daarrondom gewikkel teen die reën, die papierwerk nog steeds nie in orde nie. Hy en die kommissaris wat mekaar bly misverstaan. Sy tussen rooi koraalblomme in die skaduwee van die stoep; ’n dartelende laggie deur die oop venster van ’n kombuis wat na die agterplaas toe oopmaak. Dit was alles nog in die dae voordat hy vir Jack Huang ontmoet het.
Deur die halfoop skreef van die karavaandeur kan hy sy twee seuns tussen die swart ysterklippe van die koppie sien speel, die twee mak meerkatte ’n bruin darteling al om hulle voete. Hy voel gerus oor sy kinders, die lewenslustige knape, nou maar pas drie en vier. Hy het vir Dominique die geleentheid gegee om hulle name te kies en sy het dit dadelik Frans gemaak: Jean-Pierre en Jacques-Louis. Hy het maar net sy kop geskud en die dubbeldoor, effe vroulik-klinkende glyklanke toegeskryf aan die aard van die jeug, die jong moeder se nostalgiese verlange na die romantiese. Tog het hy haar laat begaan. Hyself kan dit vorentoe maklik JP en JL maak.
Gelukkig het hulle sy van – Van Solms – soos die son op die woud, wild en vol belofte. Sy eie ma het haar nooit aspirasies na enige vorm van Fransheid ingeprent toe sy hom sy naam gegee het nie: ‘JJ’ staan net so kortweg op sy doopsertifikaat, en sal ook so uit die oppervlak van sy doodsertifikaat reflekteer wanneer hy eendag by daardie bestemming arriveer.
Daar boer juis groot skerpioene tussen daardie klippe wat van die hitte sing, maar die meerkatte is daar om die skerpioene van die seuns af weg te keer. Hulle doen dit altyd baie flink. Hy kry ’n glimlag om sy mondhoeke as hy hom die lus herinner waarmee die graatjies tussen die klippe rondkrap met net een doel voor oë: die vetste, dikste skerpioene. Hy het die eerste keer gesorg dat hy saamstap, om te sien wat die seuns doen. ‘Onthou, moenie vat nie. Dis eina. Baie eina!’ Met hierdie woorde was hy tevrede dat hulle sou oorleef. Die lewe is oraloor maar gevaarlik genoeg, dit help nie om alle gate te probeer toestop nie. Al het hy hulle hoe lief, seuns moet grootgemaak word om rukke en stote te absorbeer. dis sy filosofie. Hy’t self goed genoeg so deurgekom tot hiertoe.
Die Kongo was alleen, skrikwekkend alleen, totdat Dominique in sy lewe ingewaai het met haar groen geruite skoolrok en haar dartelende lag. Eers later het sy hom vertel dat sy al lankal aan die uitkyk was vir hom, vir enige swerwende wit man, enige belowende vreemdeling, iemand om haar hier weg te vat, uit hierdie verstikkende oerwoudbestaan. En hy was die een wat maar bloot toevallig in haar lewe kom instap het, het sy gesê. Hy het gelag en gedog sy maak ’n grap, dat sy net met hom speel om hom jaloers te maak, maar hy was toe al glad nie so seker dat sy dit nie ernstig bedoel nie.
Eers later het hy besef dat dit ook die vrees was wat haar gedryf het, vrees vir die toekoms, vrees vir haar verlede, vrees vir haar eie bloedneef wat so onverwags in die donker kosyn van haar kamerdeur verskyn het.
Hy is nie aldag seker hoe om hierdie vrou van hom op te som nie. Hy’t gedog hy vat haar kleintyd, ongeskonde, onbevlek, om na sy eie hand groot te maak, maar hy wonder soms of sy nie veel meer volwasse is as wat hy haar toereken nie, of sy nie al veel meer ervaring in haar skraal lyf ronddra as wat hy hoop om te versamel nie, sy nie dalk reeds veel meer uitgeslape as hyself is nie.
Eintlik moet hy by die myn wees, by Ruben-hulle, tussen die Damaras en die klippe, maar nou sit hy hier en wag vir die onderdeel van die Ludowici-swaaimasjien. Die agent van die verskaffer het belowe hy bring dit vanmiddag nog deur. JJ het hom so presies moontlik oor die foon na die karavaan toe beduie. Hier sit hy nou vir hom en wag, met die gedrup van sweet vanaf sy vrou se vingerpunte en sy seuns se veraf spelende stemme as enigste teken van lewe.
Hy het nie nou die geld om vir enigiets buiten die noodsaaklike brood en botter te betaal nie. Dis hoekom die brekasie op die vibrator hom so erg ontstel. Hy hoop maar hy kan ’n maand of twee uitstel kry vir betaling. Net totdat die eerste tantalietkorrels skoon genoeg geskud is om bemark te word. Alles bly ook breek in hierdie sand en droë wind. Die pegmatietlae is so dik om deur te grawe, ’n byna nimmereindigende omhulsel wat rondom die waardevolle erts opgestapel lê.
Hy kyk op. ’n Dun stofstreep kom van ver oor die horison gekruip. Dit sny deur die wasige agtergrond van die wandelende Berg. JJ buig vorentoe en knip sy dikgeswete oë. Dis beslis ’n voertuig. Dan raak die dowwe dreuning van die klank ook nou duidelik hoorbaar. Hoewel dit hopeloos te vroeg is om die aankoms te verwag – op hierdie paaie is dit nog maklik tien minute se ry voor die dreunende voertuig hier sal arriveer – staan hy op en gaan druk sy voete in sy skoene. Ongeduldig draai hy in kort sirkels al voor die karavaan rond. Dan trap hy na binne om sy vrou wakker te maak. ‘Lovey,’ sê hy op die Engels waarmee hy al aangeleer het om met haar te praat (want sy Frans sal nooit toereikend wees vir kommunikasie nie, haar Afrikaans nog minder), ‘jy moet opstaan, hier kom ’n besoeker. Dis seker die ou met die parte.’
‘Nggh, nggh,’ kreun sy onwillig, maar kom tog dronkerig orent. ’n Paar slierte van haar hare sit natgedruk teen haar wang.
Noudat die voertuig naby genoeg gekom het, besef JJ dat dit nie die parteman is nie – dis ’n Land Cruiser van Natuurbewaring, sien hy toe die voertuig uit die lugspieëlings gestalte aanneem. Hy kan die tralies op die bak nou duidelik herken, die donkergroen koedoekop op die deur, selfs die letters daaronder. Die voertuig swenk eers wyd na links en kom dan met ’n draai na regs verby, al om die banke kwartsklip en die prospekteringslote waar JJ met Ruben en sy Damaras na die spore van tantaliet gegrawe het. Die verposing gee hom kans om die drywer goed deur te kyk voor hy op die werf kom stilhou. Die man het sekerlik probeer om die laaste ent stadiger te ry, maar steeds hang die wolke stof om die voertuig, dwarrel onder die onderstel deur en kom stuif teen die karavaan aan. JJ knip vir ’n oomblik sy oë om die ergste stofirritasie daaruit te traan. Dan gee hy twee treë na vore en wag vir die besoeker om sy deur oop te maak.
Hy ken nie die kêrel wat agter die stuur uitklim nie – maar hy ken ook nie alle mense hier rond nie, al is dit woestyn en besoekers min genoeg. Hy hou hom buitendien met opset skaars. Hy’s nie een wat oral en onnodig na geselskap loop en soek nie. As hy in die dorp kom, gaan drink hy nou en dan ’n bier in die White Lady Bar, maar dis bloot vir die dors eerder as vir geselsies maak. Tog luister hy goed as een van die kroeggangers oor moontlike mineraalbronne praat. Dalk kom daar só ’n storie na hom aangewaai, iets wat hy kan gebruik om rykdom te vind, iets wat hom waarsku teen die Sjinees se naderende teenwoordigheid.
Die natuurbewaarder is ’n lang man met ’n volbaard, hare netjies kortgeknip. Hy trek homself met ’n moeisame beweging aan die regterarm uit die stuurkajuit. Dan draai hy om en vroetel met sy bolyf na binne in die kajuit rond, trek ’n kierie uit donker hout en gemsbokhoring daaruit.
Wanneer die bewaarder met ’n ruk vorentoe tree en die hand in ’n groet uitsteek, merk JJ dat hy, ten spyte van sy forse houding en gespierde boarms, erg kruppel loop, die kierie nie maar net vir versiering nie. Die man is van kop tot tone in die kakie-uniform van die natuurbewaarders geklee, groen epoulette op die skouers.
‘Ek het die lorrie verwag met my parte,’ sê JJ sonder om te groet.
‘Chris Becker. Van Natuurbewaring, soos jy kan sien.’
‘JJ van Solms.’
‘Dis ’n normale patrollie. Ek doen maar net my werk. Ek verneem iemand skiet onwettig springbokke hier rond?’
‘Nie ek nie, daarvan kan jy seker wees. Ek besit nie eens ’n vuurwapen nie. Kom krap maar self in die karavaan rond as jy my nie glo nie.’
‘Moenie jou bekommer nie, op die oomblik verkies ek om jou te glo.’
‘M-mooi so, maar jy is welkom om orals te kyk.’ Los net my vrou uit, dink hy by homself. JJ is vies dat hy oor die woord gestruikel het.
‘Nee dankie. Maar wie dit ook al is, ek sal hom van begin tot die bitter einde agtervolg. Dit kan jy maar vir al jou vriende en kennisse vertel.’
‘Ek het g’n vriende hier rond nie. Stel ook nie belang nie. Ek is op my eie, net ons hier,’ en hy wys vaagweg na die karavaan en na sy twee seuns wat nou soos klein vraagtekens teen die liglyn van die koppie afgeëts staan. ‘Ek het definitief ook nie tyd vir jag nie, die myn hou my dag en nag besig.’
‘Wat maak die seuns daar bo teen die koppie?’ vra Becker belangstellend, sy aanvanklike barsheid tog effens versag.
‘Hulle help die graatjies om skerpioene te vang.’ JJ kyk op na die twee seuns wat hoog teen die koppie staan, effe gebukkend en hande uitgesprei soos miniatuur-Boesmans in ’n jagtershouding. Aai, hy is trots op sy seuns, klein soos hulle is. Dis die eerste seuns in sy lewe. Voorheen het hy net ’n dogter gehad, wat reeds grootmens was toe hy van haar afskeid geneem het, en nou is sy dood.
‘Hier is reuseparabuthusse hier rond. Sulke blouswartes. Hulle raak so lank soos my handpalm. Kwaai aggressief. Een steek en jy red nie jou kind lewendig nie.’ Die natuurbewaarder praat nou uit ’n kennersperspektief en met ’n afgemete en swaarwigtige stem, om seker te maak dat sy woorde goed verstaan word.
‘Ek weet, ja. Ek ken die goed. Maar die graatjies sal hulle beskerm. Ek het al gesien hoe vinnig hulle is. Ek kan die kinders ook nie heeldag in die huis hou nie. Hulle is seuns.’
‘Jy weet dis onwettig om wilde diere mak te maak?’
‘Ek weet, ja, maar die meerkatte het hulleself hier by my op die werf aangemeld. Hulle is vry om weer te gaan as hulle wil.’
Die man doen ook seker maar net sy werk. ‘Wetstoepassing’ is die kodewoord, mos. JJ verwag nie vriendelikheid nie. Dié soort ouens is berug vir hulle asosiale gedrag. Dis hoekom hulle die natuur gekies het en nie dokters of onderwysers of predikante geword het nie. Dit verbaas hom tog dat die man so ’n groot kwessie van springbokke en van meerkatte maak – onder die huidige omstandighede van die wêreld, waar groot geld harder praat as ’n homp wildsvleis of die aanhou van ’n onwettige troeteldier, is die ware grootwild – olifante en renosters – tog veel meer belangrik.
‘Tee of iets kouds? Koffie het ons nie. Moet ’n slag weer winkel toe gaan op Uis, maar sover kom ons goed reg.’ Hy draai sy kop effens na links dat sy uitnodiging die oop karavaandeur kan binnedring. JJ is baie onwillig om die natuurbewaarder in te nooi – sy vrou is dalk nog steeds net in haar dun rokkie, natgesweet, binne-in die karavaan – maar hoe maak ’n mens nou anders in hierdie grammadoelas? Gasvryheid is ’n verpligting, nie ’n keuse nie. Vorentoe moet hy dalk op dieselfde man se goedwilligheid reken. Karre breek maklik in hierdie klipwêreld, petroltenks loop leeg, bande raak pap, dinge loop skeef. Hy hoop maar net dat Dominique haar respektabel vir die besoek gemaak het. Hy het haar lank genoeg kans gegee, vroeg genoeg gewaarsku. Sy is ook deesdae so traak-my-nie-agtig, asof sy alle belangstelling in haarself verloor het.
‘Dis dalk goed om ’n bietjie uit die son uit te kom,’ sê die bewaarder en tree reeds vorentoe.
En jou die kans te gee om rond te loer na my dinge en my goed, jou bokker, dink JJ wrang, maar sê dit nie.
Binne-in die karavaan merk JJ dat Becker vir ’n oomblik in sy spore vassteek toe hy die vrou uit die skemerlig voor hom sien opdoem. Hy het al teen hierdie tyd effe gewoond geraak aan die effek wat sy vrou op die meeste mans, en snaaks genoeg veral die wittes, het. Hy kan dit nie heeltemal verklaar nie, want sy is gewoonlik heeltemal kuis geklee in geselskap – nou ook kan hy sien dat sy die moeite gedoen het om ’n skoon, droë rok te gaan aantrek, ’n liggeel rok uit stywerige katoen, byna ’n soort kelnerinuniform, die rokspante wyd gepunt, met breë bandjies oor die skouers en in ’n horisontale snit hoog oor haar bors, net onderkant die kuiltjie. Sy het die sweet uit haar gesig gewas, die slaapvoue op haar wange met ’n handdoek uit haar gesig gevryf. Net hoog op haar voorkop sit die hare nog in enkele klam slierte aan haar vel gekleef. Dalk het die dramatiese effek te doen met haar ongewone geel kleur, soos die water van ’n slikbelaaide rivier; dalk is dit haar wilde bos krulletjieshare wat haar gesig soos die ovaal raam van ’n foto omring, die oë groot, helder en lewendig daarbinne, bokant die vol, breë mond.
Waarskynlik is dit eerder haar ongewone lengte, hoog op haar kuite soos op stelte, asof sy mans, en mense, ’n bietjie uit die hoogte aankyk.
Dalk is dit egter eerder bloot die feit dat niemand so ’n slanke jong vrou by hom, reeds by die vyftig, verwag nie, en dié een duidelik nie sy dogter nie. Hy kan die gevoel van trots wat in hom opwel nie keer nie. En hoekom sou hy ook?
Sy staan gemaklik en wag vir die besoeker om die eerste woorde te sê, waarskynlik al gewoond aan die gestolde oomblikke van stommiteit by eerste ontmoetings. Dan reik die natuurbewaarder na vore en neem haar hand formeel in syne: ‘Bly om te ontmoet. Dis ’n aangename verrassing – ’n dame, so hier in die Niks.’
‘Dominique.’
‘Chris Becker. Van Natuurbewaring.’ Hy sê dit veel vriendeliker as netnou.
‘Aangenaam.’ Haar aksent brei die Engels met ’n Franse tong. Dit klink mooi en eksoties.
‘Die man soek tee. Hy sê ons jag sy springbokke,’ sê JJ bars.
Dominique kyk hom vlugtig skuinsweg aan, asof sy hom wil verkwalik vir sy onbeskoftheid as gasheer, maar draai dan woordeloos om na die ingeboude gasstoof toe en steek dit met ’n vloeiende beweging uit die vonkaansteker aan. Hy hou haar uit die hoek van sy oog dop en kan die vinnige glimlag wat oor haar mondhoeke speel baie duidelik raaksien. Die skynsel van die blou vlam val vir ’n wyle oor haar kaal voorarms en laat die haartjies daarop in ’n onnatuurlike soort lig gloei, voordat sy die ketel op die vlam staanmaak. Vir ’n oomblik bewe die haartjies soos kuikendons in die wind wat deur die oop karavaanvenster waai.
‘Rouge ou noir?’ vra sy oor haar skouer terwyl sy omdraai om in die kas na die tee en suiker te grawe.
‘Huh?’ vra Chris Becker hardop, ’n soort verslae blaf.
‘Rooi of swart?’ Sy glimlag skaam toe sy besef dat hy haar, nog half aan die slaap, op die Frans betrap het.
Dan snap hy dat sy van die tee praat. ‘Gewone tee, asseblief. Swart, met ander woorde. Twee suikers, en melk as julle het.’
‘Net kondensmelk, maar ek hou juis daarvan. Baie lekker soet.’ Sy het alreeds regop gekom met die pakkie tee en die suiker in haar twee hande.
‘Minder suiker dan, asseblief.’ Becker moet sy oë knip om weer aan die lig gewoond te raak, sy met haar woeste krulkop reg voor die venster, die stralekrans wat daaruit vlam.
‘Noem my asseblief Chris. Ons los die formaliteite maar vir die stadslewe.’
‘Chris, ja.’
‘Dis my tweede stasie,’ begin die natuurbewaarder ongevraagd beduie. ‘My eerste was teen die Skedelkus. Daar was ek vir sewe jaar, by Möwebaai. Mooi wêreld. Rof. Nog baie meer afgeleë as hier. Tog het ek daarvan gehou om so ver van die beskawing af te wees, so ver van alles af. Ek sien jy’s self ook maar op die periferie?’
‘Self ook maar, ja.’ JJ neem ’n teësinnige besluit om wel van die man te hou. Hy is heelwat jonger as hyself. Die kruppel been maak hom, ten spyte van die rooi baard, ’n soort tragiese gestalte waarmee JJ hom kan vereenselwig. Ten spyte van sy bravade, is hyself ook maar baie weerloos as hy nie die skanse om hom voldoende in stand hou nie.
‘Jy’t seker geraai dat ek nie hier is om oor springbokke en meerkatte te gesels nie?’
‘Ek wou sê.’
‘Ek wou darem eers sien met wie ek te doen het. Ek gaan maar so by almal om en kyk wie ek effe kan vertrou.’
‘Dankie vir die kompliment.’
‘Nie eers eie familie is deesdae ten volle te vertrou nie.’
‘Jy is waarskynlik reg.’ In sy binneste dink JJ aan al die goeie vriende en direkte familie wat hom al, in beide klein en groot maat, verneuk het. Vertroue en die hoeveelheid geld wat ter sprake is, staan in ’n direkte korrelasie, weet hy maar te goed. Elke mens het gewoonlik ’n limiet, waarna hy te koop is. Hy sluit homself nie daarby uit nie.
‘Daar is ál meer Sjinese in Afrika deesdae. Hier by ons ook. Niemand weet presies hoeveel nie, maar hulle is al baie meer as die blankes. Hulle is glo hier om die land te ontwikkel, maar dis maar nes die ou dae met die Europese inval. Eintlik gaan dit maar van voor af weer oor stroping. Renosters, olifante, ietermagogs, donkievelle, wat jy aan kan dink. Hier in ons kol is dit veral die renosters wat die spit afbyt.’ Die natuurbewaarder laat nie toe dat die emosie hom oorrompel nie, maar gaan bloot voort met die vertelling, op sy rustige, afgemete manier.
‘Maar ons is tog te ver suid vir renosters?’
‘Daar is renosters in die Uchab en teen die Grootberg bo in Damaraland. Die Sjinese het mynregte die wêreld oor, met Swapo gekonkel in die vryheidstryd, nou pluk hulle die vette van die land. Hulle het al die hele aarde omgedolwe daar by Toscanini en buitekant die park op die Springbokvlakte. G’n mens weet wie’t hulle die reg gegee nie. Elke staatsdepartement ontken nou verantwoordelikheid, maar hulle het papiere. Dis ’n feit. Ons vermoed hier is ’n deurgangsroete vir horings vanaf Khorixas deur Hentiesbaai, Walvis toe, vir uitvoer. Die sekuriteit is swak in die hawe. Dis gou om daar ’n pakkie in ’n skeepsruim vas te messel of toe te sweis en g’n inspekteur sal dit ooit opspoor nie, al trap hy ook daarop. Daar het al selfs hele ses-by-drie meter lange vraghouers uit die hawe se opbergingsgebied verdwyn wat die rakkers agter die hawe in die duine begrawe het – vol van gesteelde Tsumebkopererts. ‘Net die wind kon dit vind’, of hoe gaan die liedjie?’
‘Darem gekry?’
‘Ja, maar nooit geweet wie nie.’
‘Wat maak hulle met die donkievelle?’
‘Sjampoe en velverjongers en opkikkers en al daai soort stront.’ Chris kyk vir ’n oomblik vinnig na Dominique om seker te maak sy verstaan nie die growwe Afrikaans nie, maar dié is steeds eenkant onskuldig aan die tee maak. Sy laat drup juis nou die kondensmelk met ’n lang, taai sliert in die koppies stomende tee in, haar aandag stip op haar handeling gespits.
‘En wat kan ek, ons, hier, nou eintlik daaromtrent doen? Ons het nie gewere of wapens of enige so iets nie. Dis net ons vier, soos jy kan sien: een ’n jong vrou en twee maar nog klein seuntjies.’
‘Ek verwag nie van jou om die held te speel nie. Jy sit naby genoeg aan die grootpad, jy kan elke stoffie sien trek. Laat my bloot weet as jy ’n vreemde stoffie sien trek. Enigiets kan relevant wees: karre met pap wiele, ouens wat mekaar uit die bloute tussen êrens en nêrens ontmoet, ongewone besoekers, Oosterlinge of Indiërs of wat ook al. Elke bietjie help. Ons veg buitendien maar ’n ongelyke stryd. Vra jou werkers om te help kyk. Die Damaras is nie aan die slaap nie, hulle weet wat om hulle aan die gang is. Ons kan altyd opvolg, ’n padblokkade gooi, of wat ook al, as ons voel dis nodig. Ons het die polisie se samewerking. Ten minste oënskynlik.’
‘Mmm.’
‘Jy hoef nie onmiddellik te rapporteer nie. Dis nie eers jou plig nie, bloot jou voorreg. Ek het niks om jou mee te vergoed nie. Laat net ’n boodskap by die kantoor as jy weer Uis-langs kom. Ons wiele maal maar stadig. Ons sal wel mettertyd aandag daaraan gee. Jy ken mos die ou spreekwoord: “Al loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.” Of hoe?’
‘Ek ken nie daai een nie, maar ek sal daaroor nadink.’
‘Reg so.’
Hulle kyk vinnig op. Buite het ’n voertuig met geknars van bande kom stilhou. Dit moet die agent wees. Die voordeur verdonker dan ook gou daarna toe die nuwe aankomeling daarvoor kom staan en huiwerig aan die dun gaas probeer klop.
JJ staan op om oop te maak. ‘Kom binne,’ nooi hy, veel meer inskiklik as met die natuurbewaarder se aankoms vroeër. Hy sit nou al byna twee weke vir die onderdeel en wag.
‘Wag, ek is op pad,’ sê die natuurbewaarder. ‘Ek het klaar gesels wat ek moes. En die sitplek hierbinne is buitendien min. My koppie is al koud. Dankie, Mevrou. Kan ek alles maar net so los?’ vra hy vir Dominique. Sy knik bloot die kop, antwoord nie. Dis haar werk om op te ruim. Die mans weet dit mos.
‘Nou ja, totsiens.’ Hy het sy hoed reeds teruggeplaas op sy kop en knik van daaronder na die geselskap.
‘Totsiens.’
~~~
By die brandende berg is ook as e-boek beskikbaar:
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts By die brandende berg Penguin Random House SA Piet van Rooyen