C

Jodi Picoult in Afrikaans? Sowaar! Nuut in Februarie 2020: Die Belydenis, vertaal deur Daniel Hugo
 More about the book!

Hou jy van Jodi Picoult? Dan het ons goeie nuus vir jou – haar roman Plain Truth is eersdaags in Afrikaans beskikbaar as Die Belydenis.

Uit die pen van die gewilde skrywer van My Sister’s Keeper verskyn dié boeiende verhaal van twee vroue … en een geheim.

Daniel Hugo het die storie in Afrikaans omskep and dit sal die eerste keer wees dat ’n Jodi Picoult-roman in Afrikaans verskyn.

’n Uitstekende vertaling wat Afrikaanse lesers wat nog nie Picoult se werk ken nie sal lanseer in haar skrywerskap in. – Kerneels Breytenbach, ouduitgewer en skrywer

Jodi het onlangs oor die nuus getwiet:

Oor die boek

Die ontdekking van ’n dooie baba in ’n skuur op ’n Amiese plaas in Amerika dreig om ’n jong vrou se lewe te verwoes.

Omstandigheidsgetuienis dui daarop dat die agtienjarige Katie Fisher, ’n ongetroude Amiese meisie wat glo die pasgeborene se ma is, vir die moord verantwoordelik is. Katie hou vol: sy het nie die baba vermoor nie.

Terselfdertyd vlug Ellie Hathaway, ’n ontnugterde advokaat, na familie wat in dieselfde streek woon om haar kop skoon te maak. Haar tannie is verwant aan Katie en kort voor lank stem Ellie teensinnig in om Katie te verdedig.

Ellie word as Katie se toesighouer aangestel terwyl sy op borgtog is en moet boonop by die Fishers intrek. Om Katie te verdedig, moet Ellie haar nie net diep ingrawe in ’n wêreld wat radikaal van haar eie verskil nie, maar ook ’n manier vind om Katie volgens háár verwysingsraamwerk te verstaan.

Wanneer ’n man uit haar verlede weer sy verskyning maak, word Ellie terselfdertyd gedwing om haar eie vrese en begeertes te konfronteer.

Uit die pen van die gewilde skrywer van My Sister’s Keeper verskyn dié boeiende verhaal van twee vroue … en een geheim.

Oor die outeur

Jodi Picoult is ’n gewilde en geliefde skrywer van etlike topverkopers, waaronder My Sister’s KeeperNineteen MinutesThe Storyteller en Small Great Things. Sowat 40 miljoen eksemplare van haar boeke is tans wêreldwyd in druk. Meer as 25 romans het al uit haar pen verskyn en haar werk is al in 34 tale vertaal. My Sister’s Keeper is ook in ’n rolprent omskep. Picoult is al verskeie kere bekroon, onder meer met die New England Book Award. Sy woon in New Hampshire in Amerika met haar man en drie kinders.

Categories Afrikaans Fiction International South Africa

Tags Afrikaans Daniel Hugo Die Belydenis Jodi Picoult Jonathan Ball Publishers New books New releases Plain Truth Translation


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments