‘Ja, sy lyk inderdaad na ’n waardige uitverkorene’: Lees ’n grillerige uittreksel uit Die afloerder deur Anel Heydenrych
More about the book!
Anel Heydenrych se sielkundige riller, Die afloerder, vertel die verhaal van ’n menseslagter wat die platteland terroriseer.
Verslaggewer Anje Bruwer verruil die gevaarlike strate van Johannesburg vir ’n rustiger lewe in Colesberg om ’n misdaadroman te skryf, maar word betrek by die ondersoek om die moordenaar vas te trek.
Hy hou sy prooi versigtig dop terwyl hy na klassieke musiek luister, en wag vir die uitgekorene om oor sy pad te kom.
Lees die yskoue uittreksel:
~~~
Hy draai regs by die bordjie wat Ouboks Township aandui. Sy gunstelingjagveld. Hy ry met die grondpad die bult uit. Sy loerplek is reg langs Ouboks General Dealers, ’n bouvallige wit-en-blou geboutjie. Van hier af hou hy die verbygangers dop, sif hulle. Soek ’n uitverkorene. Sy maag krul soos ’n slang as hy dink aan sy vorige een.
18:01. Hy neurie saggies, trommel op die maat van die musiek in sy kop op die stuurwiel. Händel se Hallelujakoor.
18:10. Stemme naby die bakkie. Hy trek sy pet nog laer af oor sy voorkop en druk die bril agtertoe op sy neus. Die verkyker tel hy van die passasiersitplek af op en hou dit voor sy oë. Sy vingers draai en draai die knop tot die beeld in fokus is.
Die laaste son verlig die gaterige stofstraat, die bouvallige huisies, en ’n sink shack wat soos ’n lappieskombers lyk. Drie effens slingerende mans met bierbottels in die hand, ’n uitgeteerde swart brak snuffelend na kos. Net ’n paar drentelaars; nog niemand wat kwalifiseer nie.
18:35. Hy laat sak die verkyker tot op die stuurwiel. Daar is nog ure se nag oor. Wegkruipertjie speel in die donker. Hy en die donker ken mekaar goed; loop al ’n lang pad saam.
Elke nou en dan loop of slinger nog ’n paar dronkes voor sy bakkie verby, totaal onbewus dat hulle dopgehou word. Sal sy kom, die een wat hy wil hê? Sy ballas sê vir hom dat hy vanaand een gaan kry wat kwalifiseer, maar ’n boodskap van ’n ou se ballas is so betroubaar soos die liefdesverklaring van ’n hoer.
Iewers tjank ’n hond, en dronk stemme meng met die doef-doef van sjebienmusiek. Hoe kan mense na die walglike geraas luister? Dit dien geen doel nie. Sý musiek is funksioneel. Händel se Vuurwerkmusiek het so goed in sy motorhuis gewerk toe hy sy eerste uitverkorene gesny het. Haar vrees aangewakker. Sy penis beur teen sy onderbroek.
Maar dié nuwe een gaan sommer op die sotte se voorstoep geplaas word. Hy oorweeg Ouboks se polisiestasie. Daar is ’n oop stuk grond buite die gebou, slegs ’n paar meter van die grootpad af wat uit die township kom. Hy kan dit vinnig aflaai en weg wees voordat iemand hom sien.
19:05. Hy hoor eers die lag, dan sien hy haar. Die groep van drie drentel by sy bakkie verby. Twee mans weerskante van ’n vrou. Sy kwalifiseer. Groterige, ronde boude, kort rok tot bokant die knieë, pruik met lang swart hare.
Hy wag totdat hulle buite hoorafstand is voordat hy die bakkie aanskakel. Draai stadig in die straat in en stop, kyk rond, tel die verkyker op en volg hulle.
Hulle beweeg in die rigting van die sjebien. Die lang man aan haar linkerkant klap haar op die boud. Sy gee hom ’n speelse stamp. Hy spring eenkant toe asof dit ’n erge hou was.
Ja, sy lyk inderdaad na ’n waardige uitverkorene.
Toe hulle so ’n honderd meter weg is, ry hy stadig agter hulle aan. Hulle draai regs in die nou straat wat na die sjebien lei en stap verby ’n paar aanmekaargelapte grys shacks.
Hy wag eers ’n rukkie en ry dan stadig sjebien toe. Hou langs ’n wit Mazda stil, so dertig meter weg van die ingang. ’n Walglike doef-doefklank hang soos ’n rookwolk om die gebou. Vir ’n ruk luister hy na die aaklige musiek. Haal ’n pakkie kougom uit die paneelkissie, trek die papier stadig af en sit dit in sy mond.
19:30. Hoe lyk dit binne-in die sjebien? Wens hy kon ingaan en haar oor die rand van ’n glas Coke dophou, maar hy wil nie hier gesien word nie. Drank is vir swakkelinge sonder planne en opwinding. Hý weet hoe om homself te vermaak. Suip is vir losers, dié wat nie innoverend soos hy kan dink nie.
19:40. Die geraas maak hom naar. Hy oorweeg dit om huis toe te ry, vir hom ’n hoenderslaai te maak en na Vivaldi of Händel te luister om te detox van hierdie kak musiek, maar hy móét weet waar sy bly. Of waar haar lover bly sodat hy haar bewegings kan dophou. Maar hy kan wag; dis alles deel van die voorspel.
19:55. Glasstukke spat deur die geraas. Waarskynlik ’n geveg. Op die balkon sit ’n paartjie naby die houtreling en vry. Vervelige idiote. In sy truspieëltjie skyn die maan grys oor die koppies net buite die township.
20:10. Net toe hy besluit om tog maar te ry, stap sy en die man wat haar op die boud geslaan het by die sjebien se voordeur uit. Eers hy, dan sy. Hulle beweeg in die rigting van die koppies wat nou slegs hulle rûe vir die maanlig wys.
Hy wag. Lig sy pet effens op, krap waar die baard en sy vel bymekaarkom en kyk na die maan. Net toe is daar skielik ’n opskudding en ’n ou word by die sjebien se deur uitgestamp. Maar die res van die drama moet maar sonder hom ontvou. Daar’s werk om te doen.
~~~
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Anel Heydenrych Boekuittreksels Book excerpts Book extracts Die afloerder Penguin Random House SA Uittreksels