C

‘Dit laat haar droewig voel, al die grysheid’: Lees ’n uittreksel uit Marie Spruyt se jongste roman, Droomboom
 More about the book!

LAPA Uitgewers deel graag ‘n proeseltjie uit Droomboom, Marie Spruyt se jongste roman wat afspeel teen die agtergrond van Ierland se magiese landskap.

Professor Mariaan de Jongh vlug na Killaloe, ’n klein Ierse dorpie, in die hoop om die trauma van die studenteopstande in Suid-Afrika agter te laat.

~~~

Lees die uittreksel:

‘Waarheen is jy op pad?’

Die man langs haar in die vliegtuig bedoel dit seker goed. Mariaan antwoord sonder om te dink: ‘Ek weet nie. Net weg. Na ’n ander plek toe.’

‘Jy gaan darem seker êrens heen, of hoe?’ Hy is geamuseerd.

Sy vervies haar effens. ‘Enige plek ís mos êrens.’ Skoolmeester, voeg sy in stilte by. ’n Geselser en ’n wysneus. Sy is nie lus vir een van die twee nie.

Beslis maak sy haar boek oop en maak of sy lees. Dis ’n lang, slapelose nag wat voorlê, en nog twee dae op die bus en twee nagte van oorslaap in gastehuise voor sy op die veerboot na haar bestemming kan klim.

Ierland. ’n Eiland aan die ander kant van die wêreld. Dít is waarheen ek op pad is, kon sy vir die man gesê het.

Ek het die lang pad gekies, want ek het tyd nodig om te dink. Maar sy hoef niks te verduidelik nie, die hoekoms en waaroms uit te lê nie. Dis háár besigheid. Sy oornag in Fishguard, die veerboot-terminus aan die Walliese kus.

Dankbaar toe die dag aanbreek, sug sy moeg. Die wind tier om die hoeke van die huis en daar is donderweer en blitse in die lug. Dit laat haar droewig voel, al die grysheid.

Haar hart pyn nie meer nie en daar het berusting gekom, maar die verlange vang haar nog soms. Sy het hom … Sean … twee jaar geken terwyl hy as gasdosent by die kollege gewerk het. Na ’n jaar was hulle in ’n verhouding, planne gemaak om saam terug Australië toe te gaan.

Hoekom hý? En juis daardie dag?

Sy sluit haar gedagtes doelbewus. Vervang ’n negatiewe gedagte met ’n positiewe een, het Philip, haar berader gesê.

~~~

Lees ook:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Droomboom LAPA LAPA Uitgewers Marie Spruyt Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments