Die sesde boek in die Romanza Nostalgie-reeks is hier! Lees Tussen jazz en rock en Sonder bagasie deur Elsa Winckler
More about the book!
Romanza Nostalgie: Elsa Winckler
Met hierdie versamelitems vier ons vyftien jaar van ontspanning, ontvlugting en pure bederf …
Tussen jazz en rock
Hy laat haar sweet, swaar asemhaal. En dit oor sy kaal bolyf, sy blouselblou oë, sy bitter sexy boudjies … Sanet is juis voos vir mans. Maar Jak de Beer maak haar mal. Sy ken haarself sowaar nie.
Sonder bagasie
Lisa ontmoet haar nuwe baas voor sy weet wie hy is. Tot haar skande! Maar wat van sy hond en sy deurmekaar huis? Sy te blou oë en gespierde lyf is egter ’n groter probleem …
Oor die outeur
Vir solank as wat Elsa Winckler kan onthou, lees sy liefdesverhale en toe sy die klassieke skrywers soos Jane Austen, Elizabeth Gaskell, Henry James, die Brontë susters, ensovoorts tydens haar honneursstudies ‘ontmoet’ het, was dit soos om huis toe te kom. Om self ’n liefdesverhaal te probeer skryf, was ’n logiese volgende stap. Op die manier kon sy uiteindelik al die gesprekke wat naamlose gesigte gereeld in haar kop voer, neerskryf. Sy is met haar studenteliefde getroud en ná 39 jaar, drie interessante kinders en drie pragtige kleinseuns, maak hy, soos dit ’n held betaam, nog altyd haar knieë lam. Hulle is van die gelukkige mense wat op Bettysbaai bly waar die see voor hulle lê en ’n berg hoog agter hulle uittroon. Die lewe tot dusver was beslis nie altyd perfek nie, maar altyd interessant. Die heldinne in haar stories is onafhanklik, hardekwas en nie skaam om hulle sê te sê nie. Die helde is sterk, maar is ook sensitief vir die onderskeie heldinne se behoeftes. En natuurlik is hulle altyd sexy en onmoontlik aantreklik! Sy hou daarvan om die karakters se huislike omstandighede in te bring sodat die leser hulle beter kan verstaan.
Oor die reeks
Romanza is in 2020 vyftien jaar oud. Om dit te gedenk, het LAPA ses van die suksesvolste skrywers se gewildste stories saamgebondel as Romanza Nostalgie. Slegs 1500 van hierdie versamelstukke word gedruk. Koop joune voor hulle op is.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Elsa Winckler LAPA LAPA Uitgewers New books New releases Romanza Nostalgie Romanza Nostalgie: Elsa Winckler