Die 20-jaar uitgawe van Liefde laat jou Rice Krispies anders proe is nou beskikbaar!
More about the book!
Onthou jy nog dié aanhaling?
‘Hy glo die son skyn blokkies as hy op ’n tuinstoel gaan sit.’
Dan is die 20-jaar uitgawe van Liefde laat jou Rice Krispies anders proe ’n moet vir jou boekrak!
Liefde laat jou Rice Krispies anders proe deur Tania Brink, die skuilnaam van Jaco Jacobs, is ’n uiters gewilde tienerboek wat sedert sy verskyning in 2002 meerdere keer herdruk is. Hierdie uitgawe vier 20 jaar van die boek se bestaan en spog selfs met ’n splinternuwe voorblad.
Oor die boek
Marzanne Odendal is ’n uitgesproke tiener – en ouens is min of meer die laaste ding waarin sy belang stel. Haar beste vriendin, Nadia, raak egter gereeld halsoorkop verlief – op ouens soos Armand Hattingh, die rugbykaptein wat glo die son skyn blokkies as hy op ’n tuinstoel gaan sit. Maar dan begin sy uit die bloute e-posse van ’n geheimsinnige anonieme digter kry wat lyk asof hy weet hoe meisies se harte klop …
Oor die outeur(s)
Tania Brink is ’n jong Bloemfonteinse skrywer. Soos die meeste meisies van haar ouderdom weier sy om oor haar ouderdom te praat, maar sy is jonger as Alanis Morissette en ouer as Britney Spears. Sy is die dogter van twee baie normale ouers en die eienaar van ’n baie abnormale hond. Op die oomblik bly sy in Bloemfontein, waar sy as joernalis werk. Van sy vyf jaar oud is, is haar grootste droom om stories te skryf. Liefde laat jou Rice Krispies anders proe is die eerste liefdesverhaal uit haar pen. Sy beskryf dit as ’n ‘stroperige liefdesverhaal vir tieners wat siek en sat is vir stroperige liefdesverhale’. Voorheen het sy ’n paar grilboeke vir jong lesers onder ’n skuilnaam gepubliseer. Haar gunsteling tydverdryf is om op maanligaande op die strand perd te ry. Ongelukkig bly sy deesdae baie ver van die see af. Sy glo onverbiddelik in die krag van die liefde, die wonder van sonbrandolie, prinse op wit perde, Sondagmiddagslapies en feëtjies.
Jaco Jacobs is die gewilde skrywer van talle bekroonde topverkoperboeke vir kleuters, kinders en tieners, soos Suurlemoen!, ’n Goeie dag vir boomklim, Moenie hierdie boek eet nie! en My ouma is ’n rock-ster. Sy skryfwerk wissel van prettige kinderrympies tot spokerige grilstories, van vermaaklike feiteboeke tot lekker skaterlagstories. Hy het reeds meer as 150 boeke die lig laat sien, en meer as 1.2 miljoen kopieë van sy boeke is verkoop.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags 20-jaar uitgawe Afrikaans Jaco Jacobs LAPA LAPA Uitgewers Liefde laat jou Rice Krispies anders proe New releases Tania Brink