C

2020 kykNET-Rapport-boekpryse: Réney Warrington en Murray La Vita pronk op die kortlys in Film and Niefiksie
 More about the book!

Aandag! Twee LAPA-skrywers is vanjaar benoem vir die 2020 kykNET-Rapport-boekpryse!

Veels geluk aan Réney Warrington en Murray La Vita – hul boeke Smit Motors en Boodskapper van die gode het die kortlys behaal in film en niefiksie.

Die wenners word 19 September aangekondig. Vind meer uit oor Smit Motors en Boodskapper van die gode:

***

Film: Smit Motors deur Réney Warrington

‘Onthutsend, ontstellend, hartverwarmend: Smit Motors is ʼn moet-lees boek wat die leser nie sommer gou sal vergeet of kan neersit nie. Noem dit Afrikaanse fiksie se antwoord op Of Mice and Men, behalwe dat Warrington se skryfstyl uniek en uitsonderlik haar eie is. Hierdie eerste publikasie van Wenkbrou gaan meer doen as wenkbroue lig. Dit gaan harte vermurwe. Moenie loop nie. Hardloop. Gaan koop Smit Motors. Hierdie teks verdien ʼn ereplek in elke boekrak.’ – Bettina Wyngaard

Petra Smit erf onverwags haar oupa se ou werkswinkel in ʼn klein Vrystaatse dorpie. Daar is gelukkig kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra gaan, heel nuuskierig, kyk na hierdie eiendom waarvan sy nie glad nie geweet het nie.

Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Dié einste slagter is ook die buurman, hy is ’n vroueslaner en hy skeep sy seun, Monty, af, maar hy het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop.

Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so ’n persoon verkoop nie en ’n mini-oorlog breek uit.

Dinge word nog moeiliker toe Arno, ’n reus van ’n man met die psige van ’n kind, aan haar deur kom klop. Hy wil help.

Die reus maak homself tuis en word vriende met die slagter se seun, Monty. Petra hoort nie in hierdie dorp nie. Sy mis haar mooi meisie en die roman wat sy wil skryf, bly tweede kom in die oorlog met die slagter.

Die slagter hoort wel op die dorp. Hy ken die polisie en intimideer almal. Sal die vreemde Petra en haar twee nuwe maats, Arno en Monty, die oorlog kan wen?

Die boek word uit verskeie perspektiewe vertel. Petra is een perspektiefkarakter, so ook is die Johanna, Monty se oppasser. Aan die ander kant van die wêreld bly Susan, ʼn kunstenaar, vasgevang in ʼn luukse Sweedse kunstepark, nog ’n perspektiefkarakter.

Wat het hierdie vroue met mekaar in gemeen? Hoe bind Smit Motors hulle almal?

Smit Motors is toeganklike literêre fiksie. Réney Warrington slaag daarin om die spanning snaarstyf te hou, terwyl die leser die speurwerk moet doen, wetende dat iemand se bloed sal moet vloei. Die vraag is: Wie s’n?

Smit Motors is ook beskikbaar as e-boek:

***

Niefiksie: Boodskapper van die gode deur Murray La Vita

Ek wou so graag hê een van daardie fone moet lui en die man moet (sonder om verbaas te lyk) omdraai en dit optel. Dan moet hy glimlag en in ‘n stem wat al dekades lank aan miljoene mense bekend is, sê: ‘Hello, Elvis here.’

Boodskapper van die gode is ʼn keur uit die veelbekroonde joernalis Murray La Vita se rubrieke, sketse en essays. Sy aangetrokkenheid tot dit wat ongewoon en aweregs is, vind in talle van die 104 stukke in hierdie bundel neerslag. Ervarings uit sy kinderdae en jeug word afgewissel met belewenisse tydens reise na stede soos New York, Parys, Rome en Amsterdam. Hy skryf oor waarom hy nie die Anne Frank-huis kon besoek nie, vergrype op eilande, hoe hy en sy nefie as vyfjariges oorlog ontdek het, eerste liefde op sy hartsplek Hangklip, en hoe sy geliefde vriendin in ʼn heks verander het. Hoewel die leser melancholie, weerloosheid en selfs gebrokenheid in hierdie stories sal aantref, is daar ook heerlike humor en absurditeite.

Murray La Vita is ʼn bekroonde Afrikaanse profiel- en rubriekskrywer. Boodskapper van die gode bestaan uit sketse wat as rubrieke in hoofsaaklik Die Burger verskyn het. Hy skryf dikwels oor op die oog af klein gebeurtenisse en dinge, maar dit word dan ontgin op ʼn wyse wat die leser meermale onrustig of melancholies stem.

Boodskapper van die gode, wat in Maart 2019 by LAPA verskyn het, is uitstekend ontvang. Die skrywer en digter Antjie Krog het Murray as ’n ‘meesterstilis’ en as ’n ‘rare spesie in Afrikaans’ beskryf. ‘Met sintuiglike taal en ’n lieflik hoflike toon skep hy onvergeetlike taferele,’ het Krog oor Boodskapper van die gode geskryf.

Jean Meiring skryf in ’n resensie: ‘Dis ’n tesis se taak om al die fyn drade van La Vita se sonderlinge, stilweg liriese en grootliks elliptiese kortkuns terug te trek na dié voorgangers, na Tannie se reissketse en dr Con de Villiers se kamees. Na so baie ander. Maar dís nie nodig nie om as leser diep geraak te word deur dié begaafde literêre flaneur wat telkens skyn uit die glimpsies lewe wat hy hier versamel wat keer op keer se herlees verg. Só, in alle eenvoud, word La Vita tóg Hermes – ’n herout wat durende en kosbare woorde bring.

Hennie Aucamp, een van die Sestigers, het oor Murray se profiele gesê dis ‘vrye onderhoude wat oorleun biografie toe’.

Boodskapper van die gode is ook beskikbaar as e-boek:

 

 

Categories Afrikaans Fiction Non-fiction South Africa

Tags 2020 kykNET-Rapport-boekpryse Boodskapper van die gode Film LAPA LAPA Uitgewers Murray La Vita Niefiksie Réney Warrington Smit Motors


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments