‘Asterix se eie kleinkind – reg vir ’n veldslag’: Lees ’n skerpsinnige uittreksel uit Amper Frans deur Louis Jansen van Vuuren
More about the book!
Kort nadat hy 21 jaar gelede sy eerste huis in Frankryk gekoop en gerestoureer het, besluit die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren om die pad te vat en die Franse kos en kultuur in te drink. By ’n vreeslik spoggerige restaurant wag daar toe egter ’n taamlik ongewone maal …
Lees ’n uittreksel uit Amper Frans:
~~~
Ná ’n paar lang weke se harde werk by La Maison Bleue, ons eerste huis in Frankryk waar ons groot restourasiewerk onderneem het, breek die eerste geleentheid vir ’n wegkomkans uiteindelik aan. Ons wil suide toe. Om te gaan eet, te gaan ervaar en ook om wyn te gaan koop vir ons nuwe kelder onder my tuinateljee op Lapeyrouse, waar die antieke ysterwynrakke helaas nog dolleeg is.
My lewensmaat, Hardy Olivier, het vir ons ’n gawe reisplan bedink en ons gaan by spoggerige wynlandgoedere aangaan, in bekende bistro’s eet en ons eerste paar Michelin-geakkrediteerde restaurante besoek. Dit alles is deel van ons inskud in Frankryk en meer spesifiek ons Franse kulinêre opvoeding.
Ons grand finale vind plaas by die restaurant van een van Frankryk se bekende supersjefs. Claude Darroze se gevierde restaurant is in die dorpie Langon geleë en verbonde aan ’n sjiek boetiekhotel. Die konsep van ’n boetiekhotel was toe nog vir my volksvreemd, maar ons sou sommer ook ná ons laaste aand van groot eet in die hotel oornag.
Ons kom eers laat die middag by die plek aan, ná ure se sweterige rondry, verdwaal en weer verdwaal. In die keurige foyer van die hotel besef ek gou hierdie is ’n hoëhol-instansie.
In die keurige foyer van die hotel besef ek gou hierdie is ’n hoëhol-instansie.
Die ontvangsdame in haar pers ontwerperstabberd lyk asof daar orals in die foyer versteekte kameras is waarvoor sy poseer en pronk. Sy kan die moeë en afgetakelde étrangers skaars aanskou en wys die beknopste en donkerste kamertjie langs die hyserskag aan ons toe.
Sy staan ons darem ’n bespreking by die restaurant toe en ek besluit ons beter by aandete vir ons gehawende toestand by aankoms te vergoed.
Ek en Hardy mik inderhaas na die eerste en beste winkel pour hommes (vir mans). Hardy wil nog kyk na iets kleurvols, maar al wat ek vir hom mompel is: ‘Swart, Hardy, swart.’ Dit is na aan toemaaktyd en die winkelassistent is nie juis lus om ons te help om Franse kleregroottes te ontsyfer nie.
Terug by die hotel is daar skaars tyd vir stort en skeer voordat ons onsselwers in die nuwe ontwerpersmonderings by die restaurant moet aanmeld.
Ek is doodmoeg van die rondhol op soek na die regte boetiekhotelvoorkoms. Dié tipe look kan ’n mens glo nie koop nie en dis net die cognoscenti wat weet hoe – en niemand wil oorvertel nie. Dit het glo iets te make met die manier waarop jy jou hempsmoue losgeknoop hou, al het jy ’n baadjie aan. En daar dag ek al die tyd dit het alles met Tod’s te doen!
Reeds in die kamer merk ons op dat Hardy se hemp ’n nommer te klein is – en my swart broek etlike groottes te klein! Ek sukkel baie om die rits van my gulp op te kry en slaag uiteindelik daarin deur ’n wilde bokspring in die lug te maak. Ek is heilig oortuig dit is die onnatuurlike druk op my diafragma wat my stem vir die res van die aand ’n oktaaf hoër maak.
So in die verbyloop verbeel ek my dat die verlakte ontvangsdame ’n sagter blik in ons rigting werp. Sy wuif ons met rooi vingernaels na die massiewe draaideure van die restaurant.
Hier moet ek dadelik noem dat draaideure, soos windsoene en walse, my heeltemal ongedaan kan maak. Gegewe my moegheid en fragiele gemoedstoestand (en die hoë stemmetjie) is ons in vir ’n ding.
Die maitre d’ staan nét agter die draaideur by sy tafeltjie en besprekingsboek om die gaste te verwelkom en na hul tafels te vergesel. Hy is ’n tipiese Fransman: arrogant en effens bedonderd. Glad gejelde hare in die nuutste boetiekhotelstyl, sy Galliese ken kordaat gelig. Asterix se eie kleinkind – reg vir ’n veldslag.
Hy is ’n tipiese Fransman: arrogant en effens bedonderd. Glad gejelde hare in die nuutste boetiekhotelstyl, sy Galliese ken kordaat gelig. Asterix se eie kleinkind – reg vir ’n veldslag.
Nadat ek die vyfde of sesde maal in die draaideure verbygespin het, verdwyn sy glimlag vinnig en ’n ysige blik verskyn in sy oë. Ek wuif met elke verbygaan vir hom, maar begin gaandeweg simpel voel en gee my gelate aan die draaikolk oor.
Toe ek uiteindelik deur die deure uitgewerp word, beland ek vlak voor hom. So naby is ek aan hom dat ek die ysspikkels in sy irisse kan sien en ook ’n paar vergrote sweetgaatjies op die brug van sy aristokratiese neus.
Teen dié tyd is ek nie net moeg en verdwaas nie, maar ook heeltemal dronk gedraai. Ek trap so ’n paar halfhartige windtrappe soos ’n seerower op terra firma ná ’n baie lang skeepsreis.
Hierdie is ’n waterskeidingsoomblik: ek dink desperaat aan gepaste openingswoorde. Wat ek vooraf in die kamer uit my Le Robert & Collins geoefen het, is nou egter totaal vergete. Ek meen om vir die mannetjie op Frans te sê dat ek ’n tafel vir twee bespreek het en dat ons nou hier is vir die groot geleentheid.
‘Bonsoir monsieur,’ sê ek en maak my glimlag ’n bietjie dapperder voordat ek vir hom met die vasberadenheid van ’n ware De la Rey sê: ‘Je voudrais bien manger toi.’ (Ek wil jou baie graag eet.)
‘Je voudrais bien manger toi.’ (Ek wil jou baie graag eet.)
Dis eers toe die volle sin soos ’n windkous tussen ons hang, dat ek besef wat ek kwytgeraak het. Ek het die veldslag verloor en is boonop seker my broek se knope het begin meegee.
Die meneertjie kyk stip na my, trek sy een gemanikuurde wenkbrou in ’n perfekte boog op en sê ferm: ‘Peut-être après, monsieur.’ (Miskien later, meneer.)
Teen dié tyd is Hardy neffens my en ek kan sien hy hou sy lag en maag in om te verhoed dat sy hemp oopskeur. Hy kan sien daar is by my geen greintjie humor meer te vinde nie, dus vra hy sommer dadelik op Engels vir ons tafel.
‘Certainly sir! Just follow me,’ laat val die maitre d’ ewe soetjies.
Nou weet ek hoe Caesar gevoel het in sy laaste oomblikke op die trappe van die senaat. Verslane en verraai. Een van die punte van hierdie storie is om te wys dat baie Franse inderdaad Engels kan verstaan en praat, maar slegs moedig genoeg is om dit te doen voor ’n vernederde en verslaande étranger.
Die hele song en dance van die voorgereg, paletskoonmakers en sommelier is by my verby sonder dat ek veel registreer. Ek kom eers weer effens by toe ons die hoofgereg moet bestel. Die kelner begin ongeduldig raak met my wat so doelloos na die spyskaart staar. Ná sy derde harde kug val my oog op een van die duurste geregte.
‘Civet de lapin,’ spoeg ek dit uit. My stem is weer normaal, want so in die sit het my broek se knope heeltemal losgeskeur. Die verligting is enorm.
My stem is weer normaal, want so in die sit het my broek se knope heeltemal losgeskeur. Die verligting is enorm.
Hardy se hoofgereg is reeds voor hom toe die breërandbord voor my ingeskuif word.
‘Civet de lapin en blah, blah, blah,’ kondig die kelner aan.
Ek rangskik en herrangskik die donkerbruin, bredieagtige sousigheid op my bord ’n paar keer en vat af en toe ’n beleefde happie. Sleg is dit nie, maar ook nie lekker nie. Vreemde smaak, met ’n magdom klein beentjies daarin.
My rede is in trurat en ek probeer nie eens sin maak van die misterieuse gereg nie. Ek pak die beentjies in netjiese rye op my bord se breë rand uit en beloon my ná elke hap deur ’n gulsige sluk van watter wyn Hardy ook al bestel het in my keel af te gooi. Die kaas en nagereg is ook in ’n waas verby. Ek weet nie hoe ons teruggekeer het kamer toe deur die draaikolkdeure en op met die hyser nie.
Dit is eers toe ek rustig in die bed lê met my woordeboekie op my skoot dat ek weer behoorlik kan fokus. Civette. Dit is sover as ek kon kom. Net die een woord. Civette – ’n wildekatsoort.
Ek kan voel hoe die trane in my oë opstoot. Totaal verslae sit ek my bedliggie af en lê terug teen die kussings, hopende dat die slaap my sal oorval. Frankryk het die eerste ronde gewen …
Categories Afrikaans International Non-fiction South Africa
Tags Afrikaans Amper Frans Book excerpts Book extracts Jonathan Ball Uitgewers Louis Jansen van Vuuren Uittreksel