Uittreksel: Die ontdekking van ’n dooie baba in ’n skuur dreig om ’n jong vrou se lewe te verwoes in Die Belydenis deur Jodi Picoult
More about the book!
Uit die pen van die gewilde skrywer van My Sister’s Keeper verskyn dié boeiende verhaal van twee vroue … en een geheim.
Die Belydenis deur Jodi Picoult handel oor die ontdekking van ’n dooie baba in ’n skuur op ’n Amiese plaas in Amerika wat dreig om ’n jong vrou se lewe te verwoes. Het die agtienjarige Katie Fisher haar baba vermoor? Kan Ellie Hathaway, ’n ontnugterde advokaat, haar help om haar onskuld te bewys?
Lees ’n uittreksel uit Die Belydenis:
~~~
Sy het al dikwels gedroom hoe haar sussie dood onder die yslaag dryf, maar vanaand sien sy vir die heel eerste keer in haar geestesoog hoe Hannah beur om uit te kom. Sy sien haar oë, oopgesper en melkerig; sy voel Hannah se naels teen die ys skraap. Toe skrik sy wakker. Dis nie winter nie – dis Julie. Daar is nie ys onder haar handpalms nie, net gekreukelde lakens. Maar daar is weer iemand aan die ander kant wat veg om vry te kom.
Toe die vuis dieper in haar maag begin boor, byt sy op haar onderlip. Sy ignoreer die pyn wat in vlae kom en gaan en hardloop kaalvoet op haar tone die nag in.
Die skuurkat miaau hard toe sy binnekom. Teen dié tyd hyg sy na haar asem en haar bene bewe soos wilgertakke. Sy gaan lê op die hooi in die verste hoek van die kalwerhok, trek haar bene styf teen haar lyf op. Die geswolle koeie draai hul nagblou oë in haar rigting, maar kyk dan vinnig weg, so asof hulle weet hulle moenie getuies wees nie.
Sy konsentreer op die Holsteins se velle totdat die swart kolle daarop voor haar oë begin swem. Sy byt styf vas op haar nagrok se opgerolde soom. Haar lyf word ’n drukgang, asof haar binnegoed uitgedop word. Sy onthou hoe sy en Hannah altyd deur die gat in die draadheining op die spruit se wal gekruip het, hulself op hul knieë en elmboë vorentoe getrek het, totdat hulle met ’n gekreun en gesteun wonderbaarlik aan die ander kant deurval.
Dis skielik verby, so vinnig as wat dit begin het. En daar, op die gekoekte, gevlekte hooi, tussen haar bene, lê ’n baba.
***
Aaron Fisher draai hom om onder die helderkleurige kwilt en staar na die wekker langs die bed. Daar was niks, geen geluid nie, tog het iets hom wakker gemaak. Ná vyf-en-veertig jaar van boer en melk kan die kleinste dingetjie hom uit sy newels ruk. ’n Voetstap in die mielies, ’n patroonverandering van die wind, die skuurgeluid van ’n ma-koei se tong teen ’n pasgebore kalfie.
Hy voel hoe die matras meegee toe Sarah agter hom op haar elmboog regop kom. Haar lang vlegsel krul oor haar skouer soos ’n matroos se tou. ‘Was ist letz? Wat is verkeerd?’
Dis nie die diere nie. Dis nog ’n hele maand voordat die eerste koei moet kalf. Dis nie ’n inbreker nie; daar was te min geraas. Hy voel hoe sy vrou haar arm om hom sit en sy rug styf teen haar bors druk. ‘Nix,’ mompel hy. Niks. Maar hy weet nie mooi of dit Sarah is, of homself, wat hy probeer oortuig nie.
***
Sy weet sy moet die naelstring knip wat pers om die baba se maag spiraal. Haar hande bewe toe sy haar strek om die ou skêr by te kom wat aan ’n pen by die hok se deur hang. Dis geroes en met stukkies hooi bedek. Twee vinnige knippe en die naelstring gee mee, begin bloed uitspuit. Sy knyp haar vingers geskok om die punte om die bloed te stop, kyk vervaard om haar rond op soek na iets om dit mee af te bind.
Sy vroetel in die hooi en vind ’n klein stukkie baaltou wat sy vinnig om die naelstring draai. Die bloed begin stadiger vloei, hou dan heeltemal op. Sy sak verlig terug op haar elmboë. Toe begin die pasgebore baba huil.
Sy raap hom op en druk hom styf teen haar vas, begin hom wieg. Met een voet skop-skop sy die hooi om die bloed met ’n skoon laag te bedek. Die baba se mond gaan oop, en toe begin hy suig aan die materiaal van haar nagrok.
Sy weet wat die baba wil hê, wat hy nodig het, maar sy kan dit nie doen nie. Dit sal alles werklik maak.
Pleks daarvan sit sy haar pinkie in die baba se mond. Sy laat die sterk klein kake daaraan suig en doen wat sy geleer is om te doen wanneer sy erg gespanne is, dit wat sy nou al maande lank doen. ‘Here,’ bid sy, ‘laat dit asseblief weggaan.’
***
Die klank van kettings wat ratel maak haar wakker. Dis nog donker, maar die koeie raak uit gewoonte in hul aparte hokke wakker. Die are staan blou op hul vol uiers, soos volmane wat tussen hul bene hang. Haar lyf pyn en sy is moeg, maar sy weet sy moet wegkom uit die skuur voordat die werkers opdaag om te begin melk. Sy kyk af en besef dat ’n wonderwerk gebeur het: Die bloedbevlekte hooi lyk vars, behalwe vir ’n klein vlekkie onder haar boude. En die twee goed wat sy vasgehou het toe sy aan die slaap geraak het – die skêr en die pasgebore baba – is weg.
Sy staan moeisaam op en kyk vol eerbied en respek dak toe. ‘Denke,’ fluister sy, en hardloop toe buitentoe, die nag se skaduwees binne.
~~~
Categories Afrikaans Fiction International South Africa
Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Daniel Hugo Die Belydenis Jodi Picoult Jonathan Ball Uitgewers Uittreksel