C

‘’n Puik roman en meer as belowend’: Zola deur Johan Jack Smith wen gesogte Eugène Marais-prys
 More about the book!

Johan Jack Smith se debuutroman, Zola, het pas die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Die prys word aan ’n eerste or vroeëre werk toegeken.

Zola is ook vroeër vanjaar benoem vir die UJ-Debuutprys 2020.

Die roman volg ’n reeksmoordenaar in Johannesburg wat jong meisies wreed vermoor. Kaptein David Majola en adjudant Jason Basson moet hom probeer vastrek. Majola is ’n man deurmekaar met wit lyne en opgerolde geldnote terwyl sy ma en suster steeds in die township sit en krepeer. Basson is weer die tipe polisieman wat veel eerder die mag jare gelede vaarwel moes roep.

Deborah Steinmair sê oor die roman: ‘Dit is ’n eenrigtingrit in ’n taxi waaruit jy nie kan klim nie en die stem is die ene outoriteit, soos dié van ’n gesoute misdaadskrywer.’

Prof. Hennie van Coller, sameroeper van die pryskomitee, meen dat hierdie werk kreatief omgaan met die konvensies van die speurverhaal en soos die argetipiese speurder is die hoofkarakter ook besig om homself voortdurend af te vra, ‘Wat is die bestaan werklik?’

Volgens Van Coller is Majola nie die tipiese gekwelde nie, hy verskil in wese boonop nie veel van die misdadigers nie. ‘Sy buitestanderskap is erg, want hy is té swart vir blankes en té wit vir swartes. Hy stoei voortdurend teen vooroordele en rassisme; selfs by van sy boesemvriende.’

Die gebruik van landskap het ook opgeval. ‘Smith, wat die verhaal aanvanklik in draaiboekformaat gekonseptualiseer het, skryf met ’n sterk filmiese ingesteldheid en ’n besondere fyn oog vir detail. By wyse van heelwat agtergrondinligting klim hy onder die vel van sy karakters (asook die omgewings waarvandaan hulle kom) in. Die uitbeelding van Johannesburg, eintlik ’n konglomeraat van ‘parallelle stede’ (afhangende van die voorstad waain jy jou bevind), is so oortuigend en helder, dat die stad in ’n sekere opsig as dié karakter in die roman meespeel.’

Van Coller meen dat die karakters uiters geloofwaardig is en glad nie aan die stereotipiese herhinner nie. ‘Weereens is die perspektief van ’n swart man binne ’n gepolitiseerde omgewing en omring van mense wat verskillende ideologieë en rasse verteenwoordig, ’n openbaring. Boonop is hy ’n verskeurde mens wat worstel met identiteit.’

‘Hierdie werk sku nie om die gewelddadige Suid-Afrikaanse werklikheid in al sy kruheid te representeer nie. Bepaald vindingryk in die wyse waarop (politieke) gebeure in die verlede aan die hand van gebeure in die hede in ontstellende reliëf geplaas word. Hierdie roman skram ook weg van politieke korrektheid en teken ’n diep gesplete land: rasgewys, ruimtelik, ekonomies en ideologies. En veral wys dit dat die verlede steeds ’n skadu werp op die hede. Dis na my gevoel ’n puik roman en meer as belowend.’

Johan Jack Smith het in Virginia in die Vrystaat grootgeword. Hy het grafiese kuns en ontwerp studeer, maar was vir die joernalistiek beskore. Hy skryf gereeld resensies en rubrieke, speel in toneelstukke en is deel van ’n woordkunsgroep. Sy skryfwerk is in Op die spoor van (2017) en Nuwe stemme 6 (2017) gepubliseer. Hy is tans die redakteur van Taalgenoot en werk ook as uitgewer. Hy woon in Johannesburg saam met sy vrou en seuntjie.

Zola is ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Eugène Marais-prys Johan Jack Smith Literary Awards Penguin Random House SA Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Zola


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments