Moord, Doodsake en nou Vleisfees op Karibib: Lees ’n uittreksel uit Isa Konrad se derde Karibib-roman!
More about the book!
Het jy al die derde roman in Isa Konrad se Karibib-reeks gelees? Lees nou ’n uittreksel uit Vleisfees op Karibib!
Ná haar egskeiding keer Alet Snyman terug na Karibib toe om die drade wat sy aan die begin van die jaar daar laat lê het, weer op te tel. Haar terugkoms val saam met die jaarlikse Vleisfees, maar toe sy eers daar is, is haar nuwe lewe allesbehalwe ’n fees …
Lees die uittreksel:
~~~
Een
Karibib se sinkdakke blink in die sakkende son en Alet is nuuskierig oor die geel spandoek daar voor in die pad, maar sy ry al stadiger. Noudat sy amper by haar verlange aangekom het.
Die lang pad deur die suide, beendroë verlate landskappe en blou berge het haar verlede week meer as een keer in trane van blydskap gehad … toe die verhoor in Windhoek nog ’n veilige afstand weg was. Sy moes hierdie week aan ’n paneel van vyf volslae vreemdelinge beskryf hoe haar gewese man haar die begin van die jaar aangerand en byna ontvoer het. Alet het nie verwag dat dit maklik sou wees nie, maar haar eerste week terug in die land was so goor dat sy bang geword het vir haar eintlike bestemming.
Anderkant die ‘Welkom’-klip waar die B2 in Hidipho Hamutenya-straat oorgaan, ry sy onder die geel spandoek deur. VLEISFEES 2016, bloei dit sappige rooi letters. 2016. Die jaar wat seker vir die res van haar lewe net so groot en rooi in haar herinneringe sal staan as op die doek. Sy het hierdie jaar ’n moord gesien, haar lewe was in gevaar, sy het ’n egskeiding agter die rug en dit is maar Junie. Daarby lê die groot verandering nog voor: ’n nuwe begin op Karibib.
Toe Alet die dorp binnery, karring ’n glimlag aan haar mond sonder dat sy dit bedoel. Haar terugkoms gaan allesbehalwe ’n fees wees. Die verhoor het dalk ’n man se loopbaan verongeluk. Een vir wie sy omgee ook nog.
In die hoofstraat tref sy spitsverkeer aan die einde van ’n werksdag. Dis motors en dis mense, en die mense het nie ’n saak daarmee dat die motoriste ry om raak te ry nie. Hulle steek die straat oor net waar hulle wil, lag en skree lang gesprekke oor en weer vir mekaar. Deur die toe ruit probeer jong mans sleutelringe en borsels aan Alet afsmeer. Sy steur haar skaars aan hulle, konsentreer te hard om nie in iets of iemand vas te ry nie. Die miskoeke kan niemand mis ry nie. Amper elke motor aan hierdie kant van die straat is ’n plaasbakkie of ’n stampvol beeslorrie. Die lorries laat val miskoeke asof dit hulle later sal help om die pad terug huis toe te vind. Alet bars hardop uit van die lag toe ’n besonder dapper knaap met ’n skewe Kersfeesrooi mussie eers haar Audi en toe ’n taamlik aggressiewe bakkiebuffer in die aankomende verkeer met elegante systappies ontwyk.
Teen elke tweede lamppaal sien sy plakkate wat konserte vir môreaand en Maandag- en Dinsdagaand in die privaat skool se saal adverteer. ’n Duitse schlagermusiekgroep uit München. Die hoofsanger en ster is Guildo, die naam in goue letters op die plakkate aangebring. Op sy foto bokant drie ander gesigte lyk Guildo omtrent vyftig-is-die-nuwe-vyf-en-dertig se kant, ’n gesig met ’n nartjietint en Farah Fawcett-hare.
Alet draai in Tweedestraat af. As sy in die hoofstraat bly, sal sy môreoggend eers by die polisiestasie aankom. Verder in die straat af hang ’n vaal sluier van rook en stof oor die skoolbuurt. ’n Lae Ferris-wiel draai stadig in die rondte. Musiek slaan deur die motor se toe ruite en die watertandreuk van braaivleis sypel deur die lugversorger. Sy draai regs in Parkstraat af, die blok voor die skoolbuurt. By die volgende kruising tref sy ’n dwarsstroom van die verkeer waarin sy netnou in die hoofstraat vasgesit het. Toe sy uiteindelik daar deurglip, ry sy anderkant die dorp uit en skiet sommer deur ’n oop stuk veld terug tot op die B2. Van daar af ry sy die dorp ’n tweede maal binne, hierdie keer van Swakopmund se kant af.
Die pad wat haar Nuwejaarsaand Karibib toe gebring het. Hoe eienaardig dat sy daardie tyd hopeloos verknog geraak het aan die plek waar haar huwelik in die stof gebyt het. Miskien was dit onvermydelik.
Impala-garage en die polisiestasie is die eerste geboue aan die dorp se westelike rand. Die polisiestasie het ’n nuwe ysterheining rondom en twee Namibiese vlae op pale aan weerskante van die ingang. ’n Geel Toyota wat hulle vir ’n vangwa gebruik, staan onder ’n kol doringbome langs die gebou. Dis ’n wonder dat dit nie permanent pap bande het nie. Alet verwag half om ’n wit-en-bruin Ford ook daar te sien, maar die ou trok sal natuurlik in Windhoek wees. By die eienaar.
Sy hou op die sanderige sypaadjie stil. Die straatligte gaan aan net toe sy uitklim. Dit is koud. Sy kry haar denimbaadjie uit die motor en trek dit aan. Die aand ruik na braaivleis, teer en droogte. ’n Rou, aardse reuk. Presies nes sy dit onthou. Sy trek haar baadjie stywer om haar, drink die bekendheid en die vreemdheid in. Dit voel onwerklik om hier te staan.
Die son trek al sterk water in die weste. Dorp se kant toe kyk sy vir die Von Bülow-huis se torinkie, maar sy kan dit nog nie sien nie. Sy draai haar kop teësinnig terug na die polisiestasie. Tyd om die konstabels in die oë te gaan kyk.
Konstabel Beer Podolski rys soos ’n heuwel agter die toonbank op. Sy kopvel skyn pienk deur sy witblonde borselhare in die buisligte. Hy skrik omtrent sy stoel onder hom uit toe Alet die ontvangsarea binnestap.
‘Mevrou Gouws!’ fluit sy dun stem. Hy kom agter die toonbank uit en omhels haar soos breekgoed. ‘Ek het nie geweet jy kom vandag nie. Hoe gaan dit?’
‘Goed dankie, konstabel Podolski. Ek is nou weer ’n mejuffrou,’ sê sy. ‘Snyman. Ek het my nooiensvan teruggevat.’
Sy is niemand se vrou meer nie.
‘Maar dís goeie nuus, Mevrou.’
‘Mejúffrou,’ lag sy.
‘O, ja,’ glimlag hy skamerig. Hy gaan vestig weer sy massiewe gestalte agter die toonbank. ‘Inspekteur het nie vir ons gesê jy kom vandag nie.’
Haar beurt om skaam te word. Alet het haar van Kaapstad tot Karibib, meer as duisend seshonderd kilometer ver, innerlik voorberei op die kommentaar en vrae wat sy sou moes trotseer. Vir niks. Sy kry dit nooit reg om anders op te tree as wat sy voel nie, en wat sy voel, is skuldig.
‘Ons het die afgelope tyd nie so gereeld gesels nie.’
Of hoegenaamd nie.
‘Ek mag hom nie kontak terwyl sy verhoor nog aan die gang is nie. En ek was die afgelope tyd baie besig met die trek . . . en so aan. Hy was seker ook. Besig, bedoel ek.’
‘Want inspekteur Dorfling is mos in Windhoek oor julle dinge.’ Podolski se waterblou oë is poele onskuld. Doopwater.
Haar gesig word warm. Verlede Dinsdag het sy Con buite die polisiehoofkwartier in Lazarettstraat gesien, waar sy dissiplinêre verhoor plaasvind. Die getuienis wat sy voor die kommissaris van polisie, twee ondersoekbeamptes, haar eksman se regsverteenwoordiger en ’n onafhanklike lid van die publiek moes aflê, was ’n geslote sessie. Con was seker ná haar aan die beurt, want toe sy agterna uit die gebou kom, het hy onder die lang afdak voor die ingang met ’n vrou gestaan en gesels. Groot en grimmig onder sy bruin hoed. Bang dat hy haar sou sien, het Alet met haar handsak oor die kant van haar gesig soos ’n skelm na die parkeerterrein toe gesluip. Sy, die klein dief wat sy sielsrus kom steel het toe sy Nuwejaarsaand met haar stukkende oog en stukkende huwelik op Karibib aangekom het.
‘Japie is ook nog in Windhoek,’ sê Podolski. ‘Hy het vandag getuienis afgelê.’
‘Ek weet. En jy, Konstabel? Was jy al aan die beurt?’
‘Laas Vrydag, mejuffrou Snyman. Japie het vir my ingestaan en nou staan ek weer vir hom in.’
‘Was dit …?
‘Orraait seker. Ek moes vir hulle vertel wat daardie dag in die veld met jou man gebeur het. Kommissaris Isaak het gevra hoeveel keer inspekteur Dorfling nou al lede van die bevolking opgedons het waarvan ek weet.’
‘Wat het jy geantwoord? As ek mag vra.’
‘Ek het vir hulle gesê jou man is nie ’n lid van ons Namibiese bevolking nie, en hy is die enigste een wat Inspekteur al in hierdie geweste opgedons het.’
Sy moes nie eens gevra het nie. Con het ’n gevaarlike streep, maar dit is haar skuld dat hy in hierdie gemors sit. Geen vrou met ’n jota verstand sou alleen saam met haar besope eks in ’n motor klim nie. Hy en sy konstabels het haar daardie dag van Eugene én haar slagoffermentaliteit gered. Dit is onregverdig dat hy daarvoor moet teregstaan.
‘Ek voel verskriklik oor alles. Sê nou net hy word geskors?’
‘Jy kan nie help dat jou man weer kom moeilikheid maak het nie, mejuffrou Snyman.’
‘Ek kan net nie verstaan hoekom die kommissaris Eugene se klag nie eenvoudig uitgegooi het nie. Hulle moes tog julle verklarings gelees het voordat hulle besluit het of daar ’n dissiplinêre verhoor sou wees.’
Haar prokureur het foto’s van die beserings waarmee sy Nuwejaar by die mediese sentrum gaan hulp soek het ook aangestuur.
‘Toemaar, hy sal nie geskors word nie, mejuffrou Snyman. Japie sou vandag vir hulle dieselfde storie vertel het as ek en jy. Hy is mos nou ’n sersant.’
‘Sowaar? Dis wonderlik! Ek onthou hoe hard hy vir die eksamen geleer het.’
‘Ja, en hy is maar eers ’n paar weke sersant. Kommissaris Isaak weet hy sal nie vir hulle jok nie. Die waarheid wen altyd.’
‘Ek hoop so.’ Alet kou bekommerd aan haar onderlip. ‘Sal die dissiplinêre verhoor ná dese ook op inspekteur Dorfling se rekord wees?’
Konstabel Podolski dink ’n paar oomblikke na voordat hy knik. ‘Ek glo so.’
Verduiwelse Eugene Gouws.
Alet het die afgelope paar maande met sy vandalisme, agtervolging en ’n spul smerige aantygings waarmee hy haar vir geld probeer melk het te kampe gehad. Sy moes op die ou einde ’n weerhoudingsbevel ook nog teen hom kry, maar hy is slim. Die aanrandingsklag teen Con is net ’n ander manier om haar te treiter. En dit werk. Dit maak haar rasend om daaraan te dink.
‘Die uitspraak word Maandag gelewer, reg?’
‘Ja.’
‘Kan jy my asseblief laat weet as jy iets hoor, Konstabel?’ Sy dink amper nie Con sal haar bel nie. Hulle het meer as ’n maand laas oor die telefoon gepraat. ‘Het julle nog my selfoonnommer?’
‘Ja, meffrou Snyman. Ek sal jou bel.’
Dit is donkeraand toe Alet uit die stasie kom. Die musiek by die Vleisfees gee die dorp vanaand ’n dawerende hartklop, maar die hoofstraat is morsdood. Selfs die Western, ’n restaurant waarvan die beskrewe muur oor die ingang Teller Essen, T-bones en Salate beloof. Die muur aan die sykant gee dit ook nog vir ’n kroeg, biertuin én ’n dobbelhuis uit. Sy het een keer saam met dokter Oosthuizen van die mediese sentrum iets daar gaan drink en ‘biertuin’ is waarskynlik die heel raakste beskrywing van die plek. Gaaf dat sy die Vleisfees hierdie naweek getref het. Met die partytjiegeraas ’n paar blokke verder weg as gewoonlik sal sy kan uitrus voor volgende week. Voordat sy Con weer gaan sien. Sy vrees dit klaar, weet nie hoe sy hom in die oë gaan kyk nie.
Eindelik gewaar Alet die Von Bülow-huis vorentoe in die straat. Nee, dit word waar. Soos ’n droom. Haar hart wil meteens bars van blydskap. In Kaapstad het die ou huis vol geheime verder weg gevoel as die maan.
Sy bly sit lank by die laaste vierrigtingstop, net om te kyk. Die huis staan op die hoek van Hidipho Hamutenya- en Vierdestraat. Selfs toe dit jammerlik verwaarloos was, het die koloniale dubbelverdieping soos ’n troukoek tussen gebakte poedings in hierdie dorp vol administrasiehuise gelyk. Vanaand hoef sy nie haar verbeelding te gebruik nie. Voordat sy einde Januarie hier weg is, het sy ’n Duitse bouer op die dorp, Peter Eichhoff, gehuur om die plek tot sy eertydse glorie te restoureer. Sy kan nie alles van hier af sien nie, maar daar is nou buiteligte. Dit baai die nuwe huis in ’n warm, geel gloed op hierdie koue winteraand.
Haar huis.
Die oordragakte het ses weke gelede deurgegaan. Dit het tot nou toe nog nie regtig by haar ingesink nie. Daar was nie tyd nie. Die lasbrief vir haar getuienis by Con se dissiplinêre verhoor het dieselfde week by haar in Kaapstad aangekom. Alet het nooit daaraan getwyfel dat sy sou terugkom sodra die egskeiding agter die rug was nie, maar sy het in haar wildste drome nie kon dink dat sy op die ou einde ook nog hiernatoe sou moes trek om betyds te wees vir sy verhoor nie. Sy voel ellendig daaroor, maar hier is sy nou en hier gaan sy bly.
Haar hunkering na hierdie skilderagtige, leërige land was uiteindelik sterker as die verlange na Con. Daardie verlange het in haar egskeiding verdwaal. Die gevoelens wat hy die begin van die jaar in haar wakker gemaak het, was in elk geval seker meer behoefte as waarheid.
Sy draai regs in Vierdestraat af en hou voor ’n splinternuwe stel ysterhekke aan die westekant van die erf stil. Lanternligte brand op die wit pilare waartussen die hekke staan. Alet grawe die huissleutels uit haar handsak en druk die knoppie op die afstandbeheer. Peter Eichhoff het dit vir haar deur die pos gestuur. Die hekke swaai galant oop en die oprit wat altyd vol los stene was, rol so glad soos teer onder die wiele deur. Sy hou voor die motorhuis stil en klim uit. Die tuinpaadjie is ook verlig. Skaars begin sy daarlangs stap toe Erika Schultz in ’n yslike bont Herero-rok uit die skaduwees in die agterplaas ontplof. Die rok swaai in die hardloop, haar arms waai, sy lag en skree dat die hele buurt haar seker kan hoor.
‘Etsê, ou sussie!’
Erika is lank, stewig en so sterk soos twee van Alet. Sy druk haar winduit. Die vyf maande wat hulle mekaar nie gesien het nie, raak kort in haar kragtige omhelsing. Toe hulle terugstaan en mekaar bekyk, weet Alet sy is tuis.
Sy lag en druk Erika se hande nog ’n slag. ‘Waar is Joppie? Slaap hy al?’
‘Hy maak die pap en wors.’
Hulle stap geselsend terug motor toe. Alet kan nie wag om weer by die lewe hier in te skakel nie. Sy en Erika het gereeld oor die telefoon gesels, maar dit was afgewaterde kontak in vergelyking met die paar weke toe sy hier tuisgegaan het. Erika en Joppie, die tuinier, was goed vir haar toe sy dit die nodigste gehad het.
Erika help haar om die groot koffer uit die kattebak te tel. Die kleiner koffer kan sy self uittrek. Sy het dit met al die velprodukte en toiletgoed wat sy laas nie hier in die hande kon kry nie, volgeprop.
‘Laat ek net gou die res van my goed gaan haal.’
Sy gaan maak die passasiersdeur oop, en haal haar handsak en ’n kardoes met ’n parmaham-en-eiervrug-toebroodjie uit die motor. Die Hilton se kamerbediening het die broodjie vir haar gemaak voordat sy vanmiddag weg is uit Windhoek. Haar mond begin stadigaan daarvoor water. Dit was ’n lang dag. Sy sluit die Audi voor hulle ingaan.
Die tuinpaadjie is so gelyk dat sy die groot koffer moeiteloos agter haar kan aansleep. Erika dra die kleiner koffer en haar kos vir haar.
‘Ek wys jou nou die huis, sussie,’ sê sy toe hulle amper daar is.
‘Wou julle nie eet nie?’
‘Later eers.’
Die huis straal in lig en die waardigheid van ’n splinternuwe laag verf. ’n Stel wit tuinmeubels wat saam met haar trek van Suid-Afrika af gekom het, staan klaar op die stoep. Die verroeste balkon wat nog net op genade aan die boonste verdieping gehang het, is met ’n swart smeeysterbalkon vervang. Versiering vir die troukoek. Die torinkie kroon die huis met koloniale nostalgie, ’n bietjie vertonerig, ’n bietjie koddig. Dit is ook nou verlig.
Sy kan nie wag om te sien hoe die huis in die daglig gaan lyk nie. Peter Eichhoff het bouwerkers van Karibib, Swakopmund en Windhoek bymekaargebring om dit in ’n rekordtyd op te knap. Alet het al die kamers in ’n groot bed-en-ontbyt op die dorp tot twee weke gelede vir hulle gehuur. Dit het ’n klein fortuin gekos, maar dit was óf dit óf die huis sou een of ander tyd inmekaarval.
Die Von Bülow-huis het nie ’n regte portaal nie. ’n Kort, breë gang by die voordeur loop op ’n enorme eetkamer aan die regterkant, en die woonkamer en ’n formele sitkamer langs mekaar aan die linkerkant uit. So ver Erika ligte aanskakel, gaap Alet die vertrekke sprakeloos van verwondering aan. Alles lyk nog dieselfde, maar wonderbaarlik heel. Watervlekke teen die staalplafonne, mure wat die droogte gekraak, en vloere wat voete deur honderd jaar stukkend geloop het, is alles, alles heel. Sy het gehoop Peter Eichhoff kon die ergste skade behandel, maar dit is asof hulle ’n towerstaf oor alles geswaai het.
Die mahoniehout wat sy vir die vloere gekies het, is ’n diep roesbruin in die lig van die kroonkandelare. Die koperdele van die kandelare blink, die kristal glinster en elke gloeilamp daarin brand. Januarie was dit so elke derde een, maar ook net op ’n goeie dag.
Voordat sy teruggegaan het Kaapstad toe, het sy aangebied om vir basiese opknappingswerk aan die huis te betaal. Die munisipaliteit kon dit nie bekostig nie, maar dit was nie meer veilig nie. Sy kon dit ook nie verduur om te dink dit sou maar net aanhou verval totdat dit glad nie meer te redde was nie. Toe Peter eers daaraan begin werk en foto’s begin stuur het, kon sy nie by ‘basies’ ophou nie. Die koste het die prys van ’n nuwe huis teen April verbygesteek en Alet het toestemming by Karibib se burgemeesteres gekry om die huis by die munisipaliteit te koop, op voorwaarde dat dit as ’n historiese gedenkwaardigheid geregistreer word. Sy het van haar kant af aangebied dat toeriste dit steeds kan besigtig. Duitse toeriste sal dink hulle is terug in hul eie land wanneer hulle hier instap.
Hulle los eers die bagasie in die gang en stap deur die ander vertrekke op die onderste verdieping. Vyf stralende vars slaapkamers met vloeiende gordyne wat soos mantels uit die klassieke tyd oor die vensters gedrapeer is, die groot badkamer in wit en koningsblou, en die kleiner een in sagte woestynkleure. Laasgenoemde het nou ’n koperbad en -wasbakke. Sy kan nie onthou dat sy dit gekies het nie, maar dit is perfek. Sonder die blink sou die aardse pastelkleure bleek vertoon het. Erika het klaar die nuwe handdoeke, beddegoed en linne wat sy uit Kaapstad gestuur het, uitgepak. Alet het gehou by elegante maar eenvoudige ontwerpe. Skoon kleure. Roomwit en ’n bietjie borduurwerk, niks bont nie.
Behalwe vir die tuinstel het sy haar ganse huisraad net so in Kaapstad gelos. Haar rookswart meubels sou vulgêr gelyk het tussen hierdie huis se swaar, antieke meubels. Die Von Bülow wat die huis laat bou het, ’n Duitse kommissaris in die spoorweg, moes dit in die vroeë negentienhonderds van Duitsland af gebring het.
Die formele sitkamer tussen die kombuis en woonkamer is die huis se donker hart. Alet is ’n bietjie angstig toe hulle daar instap. Sy neem die gemakstoele, leersofas en nuwe houtvloer onder die Persiese tapyt net so skrams waar op pad na die kaggel toe. Die kaggel ruik nog na vuur wat vandag daarin moes gebrand het, maar sy twyfel of hierdie vertrek ooit regtig warm of knus kan wees.
Vyf en twintig jaar gelede het ’n man hom hier teen die ou marmerkaggelrak doodgeval. Nadat Joppie sy lyk begin van die jaar in die tuin raakgespit het, het Con en sy konstabels uiteindelik die kwarteeu oue geheim agter die Von Bülow-susters se verdwyning ontrafel. Die oorlewende susters woon nou in Lüderitz en wil niks van die huis weet nie. Alet het die marmerkaggelrak met ’n ysterrak laat vervang, anders sou dit vir haar seker altyd soos ’n grafsteen gelyk het.
‘Wat dink jy van die kaggel, Erika?’
‘Lelik, maar hy maak mooi vuur, sussie.’
‘Dis mos wat tel,’ lag sy. ‘Kom ons gaan kyk hoe lyk die kombuis.’
Dit is ook nuut uitgeverf. Die skaakpatroon op die vloer lyk nog dieselfde, maar in nuwe marmerteëls. Verder lyk alles nog nes Alet dit onthou met die vierkantige baktafel in die middel van die vertrek en die sonnige ontbytkamer wat uit die kombuis loop. Daar is ’n nuwe yskas en sy het ’n skottelgoedmasjien laat insit. Erika wou net niks weet van ’n elektriese stoof nie. Die ou rooi koolstoof kook vir haar lekker, het sy gesê, en dit hou die kombuis warm in die winter. In die somer gee dit mens ’n voorsmakie van die hel, maar Alet het dit daar gelaat. Sy hoop Erika sal haar verder leer kook – hulle het darem ’n begin gemaak toe sy hier gebly het – maar sy gaan seker nooit goed genoeg wees om te kan saampraat nie.
‘My Jura!’ juig sy toe sy haar Switserse koffiemasjien op die een toonbank gewaar. Uitgepak en blinkgevryf. ‘Wag totdat jy koffie uit hierdie masjien proe, Erika. Ek sal môreoggend vir jou ’n koppie maak. Jy sal nooit weer ander koffie wil drink nie.’
Erika se oë loop ’n draai om haar. Sy glimlag. Toemond en nogal halfhartig.
‘Sal ma’ sien, ou sussie.’
Sy dink seker Alet se koffiemakery gaan verloop soos haar ander pogings om haar nuttig te maak in die kombuis, maar sy sal haar wys.
‘Jy sál sien.’
Hulle gaan haal haar reistasse en klim die stewige nuwe mahonietrap steun-steun tot op die eerste verdieping.
In die badkamer aan die einde van die gang het die son altyd swaarde deur lang krake in die agterste muur laat skyn. Peter Eichhoff het ’n gebrandskilderde venster daar ingesit, ’n blaarpatroon in groen, hier en daar ’n skerf geel, en ’n karmynrooi blomkelk in die middel. Die mure is swart marmer, die vloer ’n diamantpatroon van swart en wit. Alet wou nie die kans laat verbygaan om nog marmer in die huis te laat inbou nie, want blykbaar word die beste kwaliteit ter wêreld in Karibib ontgin. Die name van die verskillende soorte wat sy in die katalogusse gesien het, was buitendien te goed om te weerstaan. Namibgroen. Harlekyn. Witrenoster. Wie sou nié daarvoor val nie?
Peter Eichhoff het vir haar ’n pragtige ou wastafel in ’n antiekwinkel op Swakopmund raakgeloop. Die wasbak is ’n groot kom op die granietblad met goudoorgeblaaste krane. Die porseleinbad sit in ’n soliede blok swart marmer met hope plek vir badolie, sjampoe en al haar sepies en lekkerruikgoed. Lampe met groen glasskerms verleen ’n bietjie dramatiese flair.
Die huis het nie en suite-badkamers nie, maar die hoofslaapkamer is net oorkant. ’n Duits-kolonialistiese weergawe van ’n Franse boudoir met ’n Biedermeier-hemelbed, ’n yslike hangkas teen die een muur, ’n laaikas teen die ander muur en ’n ruim sitarea. Vir die gordyne het sy ’n rooi damaspatroon op ’n ivoorwit agtergrond gekies. Dit hang elegant en dramaties soos verhooggordyne aan die nuwe vensterkappe. Sy moet onthou om die naaldwerkster wat Peter gehuur het, se nommer by hom te kry sodat sy haar kan bedank. Die persoon het ’n talent soos min. In elke kamer waar sy kom, val die nuwe gordyne haar eerste op.
Alet gaan staan voor die erker aan die oostekant van die kamer. Dit kyk uit op die windpomp en ’n klein opgaardam in die agterplaas. Die plek waar Con en sy konstabels die tweede lyk in die tuin opgegrawe het.
Sy ril en draai om. ‘Ek dink ek sal liewer een van die ander kamers gebruik.’
Op die ou end hou sy die meeste van die kleinste een van die vier slaapkamers op die boonste verdieping. Dit het ’n stel Franse deure wat op die balkon uitloop, en ’n uitsig op die voortuin en die westekant van die dorp. Daar is ’n eenvoudige klipkaggel aan hierdie kant van die skoorsteen. Voor die kaggel staan ’n ronde tafeltjie en drie stoele op ’n Persiese mat. Die stoele se stoffeerstof is ’n ligte affodilgeel met blink-beige strepe en die gordyne is van dieselfde materiaal. Saam met die kaggel laat die skoon, sonnige kleure die kamer vir haar knusser voel as die ander. Die bed lyk ook nie asof dit vir die prinses en die ertjie ontwerp is nie. Dit is net ’n pragtige ou dubbelbed van rooshout met ’n natuurpatroon in die kop- en voetenent gesny.
Erika het dit met die eenvoudigste stel wit beddegoed wat sy aangestuur het, opgemaak.
Sy dink skielik daaraan dat Erika seker haar klere ook uitgepak het.
‘Jawohl,’ sê sy toe Alet half skuldig daarna vra.
‘Dis so gaaf, Erika, dankie. Ek dink ek wil liewer hier slaap, maar ek sal my klere môre self oortrek.’
‘Is niks nie, sussie. So, ons het alles gekyk. Ons eet nou.’
‘Ja, natuurlik.’ Sy het skoon vergeet. ‘Julle moet lekker eet … en lekker slaap.’
Erika stap uit die kamer. Dit is hoe die oomblik op Alet afkom. Die oomblik wat sy alleen in die huis is met haar besluit om hier te kom bly. Sy asem diep in en stadig uit. Maar haar hart klop al vinniger. Dit is finaal. Hierdie ding, hierdie yslike verandering. Dis wonderlik. Is dit nie? Sy bal haar vuiste en staan net daar.
Meteens is Erika terug. Sy glimlag vir Alet met ’n hartlike klein spleet tussen haar voortande.
‘Kom eet jy?’
‘Regtig? Ja!’
Erika is halfpad teen die trappe af toe sy uit die kamer kom. Alet gryp die kardoes met haar Hilton-toebroodjie van haar groot tas af en haas haar agterna.
Hulle stap oor die grasperk na Erika en Joppie se kamers toe. Aan die begin van die jaar was hulle nog in die munisipaliteit se diens vir die huis se instandhouding. Hulle het in twee groterige buitekamers langs die motorhuis gewoon. Albei geboue was in ’n slegte toestand, die agterplaas so oorgroei met turksvye dat mens agter om die motorhuis moes loop om daar uit te kom. Dit is toe Erika besluit het die turksvye moet waai, dat Joppie die eerste geraamte raakgespit het.
Peter Eichhoff het daardie gruwels met ’n rotstuin toegesmeer. ’n Klippaadjie seil tussen die rotse deur en sonkragliggies skyn so sag soos kerse tussen die gladde klippe, vygies en aalwyne. Die twee buitekamers is vergroot en met ’n middelvertrek aanmekaargelas. Dit is waar die voordeur van hulle nuwe tuinwoonstel is.
‘Gee jy nie om om met Joppie te deel nie?’ vra Alet toe hulle instap.
Die paar weke wat sy saam met hulle hier gebly het, het die twee daagliks vasgesit.
Erika skud haar kop. ‘Is Joppie wat deel, nie ek nie.’
Die nuwe woonstel het ’n sitkamer, kombuis, badkamer en drie slaapkamers. In Erika se slaapkamer versier ’n lappieskombers die bed en dit het ’n kas so groot soos ’n spens, seker vir haar rokke. Die derde slaapkamer is haar naaldwerkkamer. Daar is ’n groot werktafel vol naaldwerkgoed. ’n Familie Herero-poppies in wording lê op ’n laaikas teen die een muur. Teen die agterste muur staan ’n antieke Singer-naaimasjien.
Alet streel oor die beroemde handelsmerk aan die voorkant van die masjien. ‘Wat ’n pragstuk!’
‘Mathilda von Bülow het hom vir my gegee toe ek nog vir hulle gewerk het. Hulle kon niks met hom maak nie. Mos net van dooies geken.’
Die Von Bülow-susters het séances in die groot huis se kelder gehou toe Erika as jong meisie vir hulle gewerk het. Alet wonder of sy intussen al weer daar was. Seker nie. Sy was so skrikkerig vir die kelder dat sy dit nie eens vir Con wou wys toe hy aan die saak gewerk het nie. Dit is die een deel van die huis wat Alet ook nie laat opknap het nie. Sy is nie bygelowig nie, maar dit sou verkeerd voel om die klein onderwêreld wat die susters dekades gelede daar geskep het te versteur. Miskien is dit beter dat niemand ooit weer ’n voet daar sit nie.
‘Jy is seker die enigste mens op die dorp wat hulle regtig geken het,’ sê sy vir Erika.
‘Niemand het hulle geken nie. Die ou Mathilda was goed vir my.’
Hulle stap deur kombuis toe. Erika gee vir haar borde, vurke, ’n skeplepel en ’n nat vadoek aan. Sy vat self twee stoele en hulle gaan by die agterdeur uit. Die buitelig skyn helder oor die heel agterste stukkie agterplaas in die erf. Joppie sit op sy hurke voor ’n lae vuurtjie. ’n Ysterpot hang oor die vuur.
Langsaan is ’n hopie smeulende kole in ’n vlak holte in die grond, waarop hy worsies braai. Koud soos dit is, het hy net sy oorpak oor ’n trui aan, ’n gebreide mussie op sy kop en een van sy tuisgemaakte sigarette in sy mond. Dit stink ten hemele.
‘Hallo, Joppie,’ glimlag Alet toe hy opkyk. ‘Gaan dit goed?’
Hy lag sy stom, beskeie laggie en steek sy duim in die lug. ‘Ons loop mooi.’
Erika sit die twee stoele naby die vuur neer. Blykbaar kry Joppie nie ’n stoel nie, maar hy sal darem seker sê as hy een wil hê.
‘Gaan tap vir ons water uit die kraan, sussie,’ vra Erika toe sy die borde by haar vat. ‘Die glase is daar in die kas.’
Alet laat staan haar Hilton-kardoes op haar stoel terwyl sy die water gaan haal. Sy vat eers Joppie se glas vir hom, toe gaan haal sy die ander twee. Toe sy weer uitkom, het Erika die houer met haar toebroodjie uit die sak gehaal. Sy het dit klaar oop en staar met ’n skeptiese uitdrukking op haar gesig na die inhoud.
‘Dis eiervrug-en-parmaham. Jy kan maar proe as jy wil.’ Sy sit hulle twee se water onder die stoele neer sodat hulle dit nie sal omstamp nie.
Erika lig die een helfte van die toebroodjie uit die houer en vat ’n hap. Sy kou stadig, peinsend. Toe sy klaar is, klap sy haar tong.
‘Wat dink jy?’
Sy trek haar arm terug en laat vlieg die broodjie los oor die heining. Die ander helfte volg kort daarna. Erika steek die leë houer in die Hilton-kardoes en verdwyn sonder ’n woord die woonstel in daarmee. Alet staar Joppie verslae aan, maar hy suig aan die gloeiende stompie wat nog van sy sigaret oor is asof goed daagliks hier van hulle kant af oor die heining vlieg. Toe Erika terugkom, gaan haal sy die borde wat op ’n groot klip langs die koolvuurtjie staan. Sy gee die vadoek en vurke vir Alet aan. Onverstoord.
‘Wat op aarde, Erika?’
‘Hè?’
‘My toebroodjie. Dit is my aandete wat jy weggegooi het.’
‘Slég.’ Sy klap haar tong nog ’n slag, trek ’n gesig.
‘Maar wat sal die mense langsaan sê?’
‘Hulle het die honne daar. Ons hoop ma’ hulle vrek nie. Ek skep nou die lekker kos vir jou.’
Hulle eet met die aandstilte in hul ore. Af en toe mekaar se stemme, ’n hond wat iewers blaf. Die musiek by die Vleisfees dreun nog eenstryk deur, maar hier waar hulle sit, voel dit ver weg. Alet eet haar pap met haar vurk, die worsies met haar hand soos Erika en Joppie. Sodra hulle leë borde terug is op die klip, begin Joppie se sigaret weer stink. Kort daarna steek Erika haar pyp op. Hulle rook en kyk in mekaar se oë om die vuurtjie.
Niks kan verder van Kaapstad verwyder wees as hierdie eenvoudige samesyn nie, en nietig soos hulle drie hier onder is, voel dit asof al die sterre in die hemel vanaand net vir hulle skyn. Die vuurtjie brand stadig laer en die koue word naderhand fel, maar Alet bly sit. Iewers tussen die ongemak en geluksaligheid van hierdie winteraand voel sy hoe sy stadig, stadig aarde toe kom.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Book excerpts Book extracts Doodsake op Karibib Isa Konrad LAPA LAPA Uittreksel Moord op Karibib Uittreksel Vleisfees op Karibib