‘Die glas onthou immers die vuur / Nie die water nie’ – Die gladde stiltes in glas deur Louis Esterhuizen is nou beskikbaar!
 More about the book!

Die bekroonde digter Louis Esterhuizen se elfde digbundel, Die gladde stiltes in glas, is nou beskikbaar by Protea Boekhuis.

Digter en resensent Nini Bennet het die volgende oor hierdie versameling gedigte gesê:

‘Hierdie bundel betrek glas as uitgebreide metafoor in al sy betekenisassosiasies, byvoorbeeld, lig, water, klip, rots, sterre, prismas, kristal, ensovoort. Glas is sterk, dog broos en breekbaar. Verse oor die natuur, die liefde en die aard of besinnings oor poësie as ambag – oftewel Ars poëtikale poësie – vind hul beslag … dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is en dat die manuskrip konseptueel, sowel as in die fynere detail, deurdag en afgerond is.’

Oor die outeur

Louis Esterhuizen is ’n geliefde en gerespekteerde digter. Sy oeuvre bestaan uit tien bundels en heelwat van sy verse is opgeneem in gesaghebbende versamelpublikasies. Hy is sedert 2017 teksredakteur en manuskripontwikkelaar nadat hy vir jare werksaam was as boekhandelaar by Protea Boekwinkel, Stellenbosch. Saam met sy vrou, die digter Marlise Joubert, is hy medepionier en stigterslid van die webblad, Versindaba. Esterhuizen is in 2011 bekroon met die Protea Poësieprys vir Wat die water onthouDie gladde stiltes in glas sal die elfde digbundel op die digter se kerfstok wees.

PUBLIKASIES:
Stilstuipe (Human & Rousseau 1986)
Op die oog af (Human & Rousseau 1988)
Die onderwaterweg (Human & Rousseau 1996)
Patzers (Human & Rousseau 1997)
Opslagsomer (Human & Rousseau 2001)
Liefland (Protea Boekhuis, 2004)
Sloper (Protea Boekhuis, 2007)
Wat die water onthou (Protea Boekhuis, 2010)
Amper elders (Protea Boekhuis, 2012)
Die afwesigheid van berge (Human & Rousseau, 2014)

***

Marlies Taljard het onlangs met die digter gesels oor sy jongste bundel. Lees die onderhoud:

Marlies Taljard: Die eerste gedig in jou bundel beskou ek in baie opsigte as ʼn sleutelgedig, veral omdat dit as’t ware in die motto-posisie staan en nie onder een van die drie afdelings ressorteer nie. Ek haal dit volledig aan:

Eerste lig

Met eerste lig maak jy jou oë oop

en besef: die glas water op die vensterbank

is begeerte se uitbeelding

van ʼn samespel tussen vorm en inhoud.

Want soos die glas gevorm is, so die water –

Wat is, was, wat was, verwaas.

So is dit altyd. Jy kyk deur die venster, sien

die dag nader met ʼn eie gedagte

van groen in boom en struik. Opeens

straal die son deur die ruit en die waterglas

vlek hierdie gedig laag teen die muur

in ʼn eie spektrum uiteen.

Die glas onthou immers die vuur.

Nie die water nie.

Marlies Taljard: Ek lees ‘glas’ in hierdie bundel onder andere as ʼn uitgebreide metafoor vir die gedig en die skryfhandeling. ʼn Groep Franse skrywers, onder andere Barthes, Derrida, Foucault en Kristeva (lede van die sogenaamde Tel quel-groep) het so ʼn paar dekades gelede die semiotiese verband tussen skryf en begeerte bekendheid laat verwerf. Dié metafoor, wat weerskante toe gelees moet word, het intussen baie gewild geword. Ek wil sommer met die deur in die huis val en vra of ʼn mens die groot aantal liefdesgedigte  – wat versprei in die bundel voorkom, maar veral in die tweede afdeling  – wyer moet lees as gedigte “aan jou”, dus byvoorbeeld aan ʼn spesifieke geliefde, soos jou vrou Marlise?

Louis Esterhuizen: Dankie vir die geleentheid, Marlies. En ja, jy is heeltemal korrek: ‘glas’ as uitgebreide metafoor het direk betrekking op die skryfhandeling aangesien die maak van glas ʼn suiweringsproses is waarvolgens onsuiwerhede uit die silika verwyder word. Daarin is dit nie onverwant aan die maak van ʼn gedig nie, met die digter as die glasblaser, die asem (Latyn: inspiritus = inspirasie) en blaaspyp as die tegniek met ten slotte die objek – wat óf funksioneel óf dekoratief kan wees – as die gedig. So ook is jou verwysing na die semiotiese verband tussen skryf (maak) en begeerte in die kol aangesien dit op die drang tot skepping, oftewel vorming, betrekking het. Dit is ook belangrik om te onthou dat glas eers vloeibaar is (gedagtes) en dan ná suiwering gevorm (poëtika) en uiteindelik tot stolling (die gedig) gebring word.

Foto met dank aan Wikipedia

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Die gladde stiltes in glas Gedigte Louis Esterhuizen Marlies Taljard New books New releases News Poësie Protea Boekhuis Protea Boekwinkel


1 Votes

You must log in to post a comment

0 Comments